
Die polisie in Mpumalanga sê in ’n verklaring die polisiekantoor op Delmas het deur ’n sosialemediagroep vir plaasveiligheid inligting ontvang dat ’n familielid van die oorledene alarm gemaak het oor ’n moontlike aanval op sy plaas tussen Delmas en Bronkhorstspruit.
Met die polisie se aankoms op die plaas Dinsdagoggend, 27 September, het hulle Coleman in ’n plas bloed gevind. Hy is deur paramedici op die toneel dood verklaar.
Voorlopige ondersoeke toon volgens die polisie dat die slagoffer se hande en voete vasgebind was. Die agterdeur van die huis was gebreek, moontlik deur die verdagte(s) om toegang tot die huis te verkry.
Die huis is geplunder. Die oorledene se selfoon is volgens die polisie dalk in die voorval gesteel en ’n klag van huisbraak is tot die klag van moord gevoeg.
Die motief vir die moord is onbekend. Meer inligting is nog nie bekend nie. Die polisie was met die uitreik van die verklaring laat Dinsdagmiddag nog besig op die toneel.
Netwerk24 berig dat Coleman geskiet is en dat die moord op Coleman is volgens mnr. Llewellyn Hemmens, AfriForum se hoof van veiligheid vir die noordelike streek, die derde plaasmoord in minder as ’n week in die noorde van die land. Volgens Hemmens is al drie mense uiters gewelddadig vermoor.
Netwerk24 berig verder dat Coleman volgens Hemmens baie betrokke was by die bekamping van bek-en-klouseer en dat sy moord ’n reuse-leemte in die Delmas-streek laat.
Lt.genl. Semakaleng Daphney Manamela, polisiekommissaris van Mpumalanga, het die voorval sterk veroordeel. Die polisie het enigeen met inligting gevra om speur-adjudant-offisier Jacques Smook by sel. 082 527 2974 te kontak of die Stop Misdaad-nommer by 08600 10111.