Sowat 800 boere maak planne om hul bedrywighede na die Kongo (Brazzaville) en Mosambiek uit te brei, sê Agri SA. Dr. Theo de Jager, die voorsitter van die organisasie se Afrika-komitee, sê die aanvraag vir boere wat belang stel, groei weekliks.
“Nie soveel om weg te trek nie, maar om hul bedrywighede uit te brei. Ek vermoed daar is al ten minste 800 boere wat besig is om hul somme te maak, vorms in te vul, ens.,” vertel De Jager.
‘Vrieskasbedrywe’
De Jager sê die grootste aanvraag bestaan in arbeidsintensiewe bedrywe, soos makadamia-neute, avokado’s of groente. Hy sê die feit dat vakbonde die afgelope paar jaar druk op arbeidsintensiewe bedrywe geplaas het, het tot ’n afname in dié tipe bedrywe gelei: “Dié bedrywe wat ons die afgelope vier jaar in die vrieskas sien val het, word nou uitgehaal vir dié lande.”
Volgens De Jager is daar ook navrae oor die verbouing van koffie en tee, wat baie arbeidsintensief is. Die afgelope jare het verskeie van dié boerderye weens arbeidskwessies en grondhervorming tot niet gegaan.
Grondhervorming
Die tol wat grondhervorming en arbeidswetgewing al van die landbou geëis het en steeds eis, is duidelik sigbaar sê De Jager.
Hy vertel dis duidelik dat boere met die jongste voorstelle in die beleidsomgewing nie met hul spreekwoordelike broek om hul knieë gevang wil word nie.
“Ons het die afgelope week gesprekke met mnr. Gugile Nkwinti, die Minister van Grondhervorming en Landelike Ontwikkeling, gehad en dis duidelik dat boere voortydig optree. Byvoorbeeld, met die voorgestelde Verblyfregwet en die voorgestelde veranderinge aan die Arbeidswet, het baie boere al arbeid op hul plase begin afskaal.”
7 April 2010