Dit is in teenstelling met hoe vinnig hulp verleen is ná die vernietigende vloede in die Kuruman-omgewing in Februarie vanjaar. Die provinsiale departement van landbou, grondhervorming en landelike ontwikkeling het in Mei in sy vroeë waarskuwingsverslag aanbeveel dat droogtehulp van R337 miljoen binnekort beskikbaar gemaak word omdat die droogte in veral die sentrale en westelike gedeeltes nie binnekort gaan wyk nie.
Volgens mnr. Nicol Jansen, voorsitter van Agri Noord-Kaap, kan hulle ondanks dié hoogs insiggewende en wetenskaplike verslag oor die omvang van die droogte nie op droogteramphulp reken nie. “Ons weet nie of ons hulp gaan kry nie. Die normale prosedure vir ’n rampverklaring is dat die distriksmunisipaliteit die droogte moet assesseer en as ramp verklaar, en ’n aanbeveling by die rampbestuurafdeling van die departement van samewerkende regering en tradisionele sake (Cogta) maak.
“Sodra Cogta die ramp bevestig, word aanbevelings aan die premier gemaak wat die verlangde hulp toestaan, of doen hy nasionaal aansoek vir hulp indien daar ’n tekort aan geld is.