
Die verhandeling is in Junie 2019 opgeskort toe die prys tot R13,21 getuimel het ná onthullings oor kunsmatig verhoogde winste by die suikkerreus.
Die aandeelprys het Maandag ná die heropening in een stadium tot sy laagste vlak nog van R4,31 per aandeel gedaal voor dit vir die res van die dag rondom vlakke van R5 per aandeel gestabiliseer het.
Die maatskappy, wat ook eiendomme ontwikkel en styselverwerking doen, sit met ’n skuldlas van R13 miljard nadat grootskaalse rekenkundige ongerymdhede aan die lig gekom het. ’n Omdraaiplan is onder leiding van mnre. Gavin Hudson, nuwe uitvoerende hoof, en Rob Aitken, nuwe finansiële hoof, ingestel.
Dit was ’n jaar van klippe kou, het Hudson het verlede Vrydag op Tongaat Hulett se voorlegging van sy resultate vir die ses maande tot einde September 2019 gesê. In dié tydperk het die groep ’n wesensverlies van R314 miljoen gely, wat darem 19% kleiner is as in die vorige ooreenstemmende tydperk.
“Ek is nie trots om ’n verlies aan te kondig nie, maar daar is ’n verbetering,” het Hudson gesê en bygevoeg dat hy hoop dit sal nie meer baie langer so voortduur nie. Volgens die groep se skuldplan moet hy teen Maart 2021 tot R8 miljard van sy skuld delg. Enige bedryfswins word tans opgevreet deur die rente wat op die skuldlas betaal moet word.
Hudson het gesê die groep betaal tans sy skuld vinniger as wat vooraf met die krediteure ooreengekom is. Teen November 2019 het hy reeds R610 miljoen betaal pleks van die ooreengekome R500 miljoen.
Die forensiese ondersoek wat deur PwC gedoen is na die rekenkundige skandaal wat tot die groep se skuldkrisis gelei het, het bevind dat die vorige uitvoerende bestuur moes geweet het van die ongerymdhede wat ingesluit het dat winste opgeblaas is. Tongaat Hulett se nuwe direksie onder voorsitterskap van mnr. Louis von Zeunert het vroeër volgens Business Day gesê diegene wat die ongerymdhede gepleeg het, sal verantwoordelik gehou word.