
Agricolleges International het in 2018 aanlyn landboukursusse begin aanbied en kon vanjaar begin om van die kursusse in Afrikaans aan te bied, danksy geld van die Dagbreek Trust se Trust vir Afrikaanse Onderwys.
Me. Laurika du Bois, bemarkingshoof van die kollege, het op ’n mediageleentheid van TLU SA gesê Afrikaanse jong mense het min geleenthede om in die landbou te gaan studeer.
“Jong mense kom nie meer in by landboukolleges nie en kolleges is boonop in ’n vreeslike toestand. Hulle kom nie by koshuise en universiteite in nie, weens kwotas en beperkte innames, en universiteite se kursusse het baie wetenskapliker (as prakties) geword.”
Agricolleges International het saam met TLU SA ’n kompetisie vir sy lede aangebied waardeur drie jong mense beurse gekry het om vir inleidende kursusse aan die kollege in te skryf. Hulle is gekies op grond van die motiverings wat hulle moes skryf oor die landbou as volwaardige beroep vir die toekoms.
Mnr. Michael Otto (21), van die Waterpoort-omgewing in Limpopo, het die beurs gekry om inleiding tot diereproduksie te studeer, mnr. Hendrik Prinsloo (19), van die Stofberg-omgewing in Limpopo, inleiding tot plantproduksie, en me. Chantelle Visser (18) van Garies in die Noord-Kaap, inleiding tot landboubesigheid.
Die kollege bied ook ander kursusse aan.
Die instelling wil die kompetisie uitbrei en in streekverband beurse gee. Studente hoef net twee tot drie uur per dag aan ’n kursus af te staan. “Jy kan steeds vir jou pa boer,” was Du Bois se boodskap aan jong mense.
Spreekwoordelike droogte
Mnr. Bennie van Zyl, hoofbestuurder van TLU SA, het op dieselfde geleentheid gesê die organisasie ervaar dat baie mense skepties en pessimisties oor die toekoms is en dat die land in ’n spreekwoordelike droogte ingaan. TLU SA wil graag help om dit, figuurlik gesproke, te verander om ’n “stroomversnelling na die toekoms” te skep.
Wanneer kleiner stroompies saamvloei, word dit later ’n groot rivier, het hy gesê.
“Ons organisasies, in die breër landbou-omgewing, het elk ’n stroom om by te dra tot ons lewensaar om volhoubare sukses of lewe te kan teweegbring. Sommiges se stroom is wesenlik groter as die ander, maar geeneen se bydrae moet geringgeskat word nie.”
Van Zyl het gesê TLU SA is realisties oor hoe groot sy “stroompie” is, maar is trots daarop dat hy deurentyd beginselvas, begrond en suiwer is. Die organisasie werk ook toenemend saam met netwerkvennote.
Dit is nodig om eerlik te word oor die werklikhede in Suid-Afrika. “Sekere dinge werk, ander nie. Indien ons aanhou om dit wat nie werk nie, te probeer regverdig terwyl ons van beter weet, is ons elkeen aandadig daaraan dat ons nie ’n toekoms vir die volgende geslag skep nie.
“In Suid-Afrika het ons al grootliks verlief geneem dat ons mislukkings geleer bestuur het. Dit is ons werklikheid. Ons probeer kyk hoe ons die ‘droogte’ weens ’n onrealistiese beleidsomgewing kan verbeter.”
Markkragte het volgens hom altyd die laaste sê oor sukses. In vergaderings met die regering is dit hartseer om te sien nie almal verstaan dit nie. “Mense dink welvaart bestaan maar net en ons moet dit net verdeel. Die feit dat boere elke dag moet stoei en werk om dit reg te kry, is vir hulle amper irrelevant.”
Daar moet ’n sterk toespitsing wees op ekonomiese groei as die enigste blywende oplossing vir die land se groeiende werkloosheid en armoede. Van Zyl het die maatskaplike probleme as ’n tydbom bestempel.
Laai die Landbou.com-app af en lees jou landbounuus direk op die app. Dié app is beskikbaar in die Apple-, Android- en Huawei-winkels.