
Ten spyte van die beste veiligheidsmaatreëls en ‘n parate boer en gesin, kom plaasaanvalle soms tog voor op plase wat goed beskerm is. Dit is dus belangrik om die nodige kennis oor die beveiliging van die misdaadtoneel, die ondersoek en regsproses te hê. In die artikel word raad oor dié aspekte deur kenners verskaf, sowel as wenke oor hoe die trauma van ‘n plaasaanval verwerk kan word.
Beveilig die misdaadtoneel
Die beveiliging van die misdaadtoneel ná ‘n plaasaanval is deurslaggewend, sê genl.maj. Chris van Zyl, assistent-hoofbestuurder van die TLU SA.
“Daar moet die minimum toegang wees om te keer dat iemand met forensiese getuienis inmeng. Moet aan geen voorwerp raak, dit verskuif of verwyder nie.” Hy gee ’n paar rigtingwysers:
- Nadat beseerdes behandel is, moet hulle so spoedig moontlik van die misdaadtoneel verwyder word met die minimum ontwrigting op die toneel. Beweging in en uit die misdaadtoneel moet verkieslik langs ’n spesifieke roete geskied. Die toneel moet sigbaar afgebaken word en aantekeninge moet gehou word van alle mense wat die toneel betree.
- Waak daarteen dat mense se nuuskierigheid die oorhand kry. Stel beheerpunte op die tersaaklike toegangsroetes op, weg van die misdaadtoneel. Toegang by die beheerpunte moet streng gereguleer word.
- Sodra die SAPD opdaag, moet die misdaadtoneel aan die polisie oorhandig word, met ’n naamlys van mense wat toegang tot die toneel gekry het.
Die tyd wat dit duur voordat die speurder en vingerafdrukdeskundige die groen lig gee en jy weer kan begin orde skep, wissel.
“Uiteraard het die geweld (en gevolge daarvan) ’n groot invloed op die ondersoek wat op die misdaadtoneel moet plaasvind. Dit word grootliks bepaal deur die forensiese getuienis wat ingesamel moet word, die aantal oortreders en die aantal slagoffers wat betrokke was, asook die ‘verspreiding’ van die slagoffers op die toneel,” sê Van Zyl.
LEES OOK: Só werk burgerlike arrestasie
Verklarings
Die slagoffer se verklaring (wat feitelik so korrek en volledig as moontlik opgestel moet word) is baie belangrik, sê Van Zyl.
“Waar nodig, kan die slagoffer se regsverteenwoordiger of ’n plaaslike kundige wat die vertroue van die slagoffer geniet, bydra om seker te maak dat alle relevante feite onder die aandag van die staatsaanklaer gebring word.
“Die ondersoek is in die hande van die aangewese ondersoekbeampte, wat saam met die staatsaanklaer die nodige getuienis moet aanbied wat die beskuldigdes verbind met spesifieke dade, tye en plekke.
“Uiteraard speel die gehalte van verklarings deur slagoffers ’n belangrike rol. Dit help baie dat iemand met toepaslike ervaring en wat vaardig is met die huistaal van die slagoffers, help met die afneem en formulering van die verklarings.” Veral die korrekte volgorde van gebeure, die identifikasie van beskuldigdes by spesifieke optredes en akkurate omskrywings in die verklaring is belangrik, sê Van Zyl.
“Slagoffers moet daarteen waak om nie sodanige verklarings af te lê ‘in ’n emosionele oomblik’ nie en daar is geen druk dat dit onmiddellik na die voorval gedoen moet word nie.”
Mnr. Nantes Kelder, hoof van die ondersoek-en-trauma-eenheid van AfriForum, beaam dit. “Dit is volgens my nie altyd wenslik om net ná die aanval ’n verklaring van ’n slagoffer te neem nie. Indien die slagoffer te getraumatiseer is, kan die polisiebeampte ook ’n verklaring aflê om ’n saak voorlopig aan te meld.”
Sekere inligting moet egter verkieslik so gou moontlik oorgedra word. “Indien die ondersoekbeampte wil weet wat byvoorbeeld uit die kluis vermis word, is dit tog belangrik om te sê.
“Plaaswagte word gewoonlik vinnig gemobiliseer en as inhegtenisnemings vinnig gemaak word, is dit belangrik om te weet wat gesteel is om te kyk of die verdagtes dit in hul besit het. Dit help ook in die geval waar spoorsnyers op die spoor is en moontlik van die eiendom kan optel as dit langs die pad weggegooi word. Ek sal egter weer eens uitstel vra om ’n verklaring af te lê as die slagoffer te getraumatiseer is.”
LEES OOK: Plaasveiligheid - wanneer mag jy skiet?
Die hofsaak
Mnr. Butch van Blerk, direkteur van Bill Tolken Hendrikse Ingelyf en gereelde bydraer tot die Vra vir Faffa-rubriek, verduidelik hoe ’n tipiese saak verloop.
“Normaalweg sal jy ’n saak van huisbraak en aanranding met die opset om ernstig te beseer (indien niemand doodgemaak is nie) by die SAPD aanhangig maak. Die SAPD sal die saak ondersoek en die skuldiges in hegtenis neem en voor die hof bring. Indien die aangeklaagdes skuld ontken, sal jou getuienis ten opsigte van die inbraak, aanranding en die moontlike dood van ’n slagoffer benodig word.
“Indien hulle skuld erken, sal die hof hulle gevangenisstraf oplê en jy sal nie noodwendig die verrigtinge bywoon nie. Jy kan die ondersoekbeampte van die SAPD versoek dat jy ingelig wil word oor die vervolging en dat jy die hofverrigtinge wil bywoon.
“Jy kan ook die staatsaanklaer versoek dat jy getuienis lewer ter verswaring van die beskuldiges se vonnis indien die aanval met wreedaardigheid gepaardgegaan het. Die hof sal dit in ag neem by die oplegging van vonnis en waarskynlik ’n swaarder straf oplê.”
Van Zyl sê dat die volgende faktore gebruik kan word om getuienis ter verswaring van vonnis te lewer:
- Die feit dat geweldsmisdaad op plase en landbouhoewes sedert 1998 as ’n nasionale prioriteitsmisdaad verklaar is.
- Die mate van geweld in verhouding met die ooglopende motief, veral as daar tekens van doelbewuste marteling sigbaar is.
- Die (gevorderde) ouderdom en gevolglike relatiewe weerloosheid van die slagoffers.
- Die herhaalde voorkoms van geweldsmisdaad in die gebied.
- Vorige veroordelings van die beskuldigde.
Die nasionaliteit van die beskuldigde (inwoners van buurstate is toenemend betrokke by aanvalle). Slagoffers moet gereeld kontak hou met die ondersoekbeampte, sê Kelder.
“Die polisie word ingevolge hul handves oor die hantering van slagoffers verplig om slagoffers op die hoogte te hou van die stand van die ondersoek. Indien slagoffers nie van die begin af die saak wil bywoon nie, is dit raadsaam om iemand af te vaardig om die saak by te woon en ingelig te bly.
“Indien daar nie voldoende terugvoer is nie, kan die stasiebevelvoerder genader word, daarna die bevelvoerder van die breër gebied en dan die provinsiale kommissaris. ’n Aanklaer wat sy sout werd is, sal ’n slagoffer op die hoogte van sake hou tydens die verhoor. Indien nie, is dit die slagoffer se reg om die aanklaer te nader en navraag te doen.”
“As landsburger het jy die volkome reg om betrokke te wees by ’n strafsaak wat jou en jou gesin raak,” sê Butch. “Dis meestal waar mense nie die vrymoedigheid neem en ’n regstreekse versoek tot die ondersoekbeampte en staatsaanklaer rig om ingelig te word nie dat hulle uitgesluit voel.”
LEES OOK: Plaasveiligheid - waak teen waarskuwingskoot
Herstel
Kontak kan met die plaaslike predikant gemaak word oor ’n beginpunt vir berading, sê Kelder. “AfriForum lewer tans ook ’n ondersteunende rol aan slagoffers, trauma-ontlonting word gedoen en waar dit versoek word, word ook verklarings van slagoffers geneem. AfriForum se ondersoek-en-trauma-eenheid berei ook slagoffers voor vir die hof en staan hulle in die hof by.
“Van die lede verbonde aan die eenheid is oudpolisielede en, waar nodig, word slagoffers na sielkundiges verwys.”
Volgens Van Zyl moet mense die volgende selfhelpwenke volg om te voorkom dat hul lewe en boerdery ná ’n traumatiese gebeurtenis ly:
- Behou ’n normale roetine.
- Gun jouself ekstra tyd vir gewone take.
- Skryf gedagtes en ervarings neer.
- Ontwikkel ’n ontspanningstegniek, bv. ’n stokperdjie.
- Praat met ander mense oor jou ervaring.
- Praat met God.
- Moenie pyn en/of vrees wegsteek nie.
- Moenie ekstra druk op jouself plaas nie. Sê nee.
- Vermy tydelike verligting (alkohol, medisyne, pynstillers, dwelms).
- Wees versigtig om oorhaastige besluite te neem.
- Gebruik jou vriende om te help.
- Benut traumaberadingsdienste