’n Boervrou van die distrik Tweeling het Dinsdag daarin geslaag om ’n aanvaller af te weer deur verwoed terug te baklei teen sy poging om haar te verkrag. Mev. Linda van Zyl het volgens 'n berig in Volksblad dié halfkaal man glo om 06:40 in haar plaashuis teëgekom.
Van Zyl se man, Nick, het pas die plaashuis verlaat. Die man het haar probeer verkrag, maar Van Zyl het haar teëgesit. ’n Woeste gestoei het gevolg en Van Zyl het haar rewolwer in die hande gekry en op die man probeer skiet.
Die wapen wou egter nie afgaan nie. Die aanvaller het die wapen gegryp en ook probeer skiet, maar dit wou weer nie afgaan nie. Die man het sy pogings om Van Zyl te verkrag gestaak nadat sy vir hom gesê het sy gaan vir hom bid.
Hy het daarna op sy fiets geklim en van die plaashuis af gevlug. Die boere se veiligheidsplan is in werking gestel en die verdagte is ’n uur later aangekeer.
Bron: Volksblad
23 Maart 2011