Die kans om te voorkom dat die Aarde se temperatuur teen die einde van die eeu met minder as 2 °Celsius verhoog, is verbeur, sê mnr. Yvo de Boer, voormalige klimaatshoof van die Verenigde Nasies.
Luidens ’n berig in Volksblad is De Boer die beampte wat die perk van 2 °Celsius – as die “noodsaaklike minimum” om grootskaalse klimaatrampe te voorkom – gestel het. Dié perk is tydens die klimaatberaad in 2009 in Kopenhagen deur 195 lande aanvaar.
Tydens ’n klimaatberaad in Londen vandeesweek het De Boer gesê pogings om nywerheidsbesoedeling te verminder is nie voldoende nie.
Wetenskaplikes verwag tans dat die temperatuurstyging teen 2100 reeds 3 °Celsius of selfs 5 °Celsius kan wees. Verwarming met tot 5 °Celsius is ’n vlak wat 30 miljoen jaar gelede laas voorgekom het.
0,1 °Celsius per dekade
Volgens Nasa, die Amerikaanse ruimte-agentskap, styg die temperatuur van die Aarde met minstens 0,1 °Celsius per dekade. Teen die koers waarteen aardverwarming tans plaasvind, sal seevlakke teen 2100 met meer as 25 m styg weens die smelting van gletsers in die Noord- en Suidpool. Wetenskaplikes sê hoër temperature sal ook tot meer droogtes en oorstromings lei.
De Boer sê: “Die feit dat ons reeds die doelwit van 2 °Celsius verloor het, beteken nie dat ons ophou probeer nie.” Die feit dat die klimaat vermoedelik vinniger verander as wat vyf jaar gelede vermoed is, sal in Junie op die Rio20-beraad in Brasilië indringend bespreek word.
Bron: Volksblad
28 Maart 2012