
Ná berigte van van droë damme en krane in die distrik Calvinia het die sanger Adam Tas besluit om sy deel te doen om boere in dié droogtegeteisterde omgewing met water en voer te help.
Die droogte in dié deel van die land is tans krities met die Hantam-munisipaliteit wat slegs water vanaf sewe boorgate kan kry. Die Kareedam is geheel en al sonder water. Veldbrande het in Januarie ook grootskaalse skade aan verskeie plase aangerig en sommige boere het min tot geen voer oor nie.
Mnr. Burre Burger, 'n sakeman van Vredendal, vertel Tas en mnr. Meyer le Roux van Buffelsfontein Baardolie het ná 'n gesprek oor die krisis in Calvinia aangebied om voer bymekaar te maak en aan boere in Calvinia te stuur.
Afriforum het ook ingespring met 'n R100 000 skenking en sodoende is die Calvinia in Nood-projek gestig.
Hulp stroom in
Maatskappye soos Cederberg Aqua en Silwerpak Vrugte het 'n vragmotor vol drinkwater na die dorp te stuur terwyl nóg voer van Witklip-aartappels ontvang is.
Burger sê hy 'n kennisgewing op Facebook geplaas het, stuur die hulp steeds in. "Dit gaan mal almal wil 'n bydrae lewer. ALG-boerdery het 25 000 liter in Calvinia se drinkwaterreservoir getap." Matzikama Vervoer borg die vervoer vir die volgende 30 000 liter water, terwyl Namaqua Engineering ook hooibale geskenk het.
"Die Here seën ons elke dag, so ons moet sy seëninge uitdeel," sê Burger. " Ek dryf die projek vanuit Vredendal en sal sorg dat ons help solank hulle in nood is. Ons beplan reeds om nog 'n vrag afrondpille te koop volgende week. Die veld is droog en die skape lei honger. Ons móét help."
Diegene wat donasies wil maak, kan Burger by 082 970 9219 of burre@twobrothers.co.za kontak, of 'n oorbetaling in die volgende rekening maak:
Help Calvinia
FNB Rekening
Rekening: 62077456096
Tak: 250655
Verwysing: Calvinianood
Verskeie maatskappye het water geskenk en vervoerkoste geborg om die mense van Calvinia te help. Foto's: Burre Burger