
Gevestigde vennootskappe tussen wit en swart boere is nodig om radikale ekonomiese transformasie van die landbou te dryf.
Só het mnr. Nhlanhla Nene, voormalige Minister van Finansies en tans raadgewer by die Thebe Investment Corporation, tydens die afgelope kongres van die African Farmer’s Association of South Africa (Afasa) gesê.
Wat beteken dit?
Nene het reageer op ’n vraag uit die gehoor oor wat radikale transformasie vir hom beteken.
“Moenie wit boere se praktiese ervaring gering ag nie. Dit kan nie geïgnoreer word nie en ons sal die regte kommersiële boere moet vind om vennootskappe mee te smee, aangesien ons nie oor dieselfde praktiese ervaring beskik as boere wat al 40 jaar of langer boer nie.
"Jy kan al die kennis uit ’n handboek hê, maar as jy nie self al ’n droogte moes oorleef, of praktiese finansiële ervaring in ’n boerdery opgedoen het nie, gaan jy dit nie maak nie. Daarom het landbou almal, wit en swart boere, nodig,” het Nene gesê.
Ekonomie maak die reëls
Mnr. Bennie van Zyl, hoofbestuurder van TLU SA, het as deel van ’n paneelbespreking oor transformasie in die landbou gesê wit boere lewer ’n groot bydrae om die land te help bou. “Jy kan egter nie by die ekonomiese reëls verbykom nie. Ons moet by die ekonomiese reëls bly, en dit moet by die beleidsomgewing ingebring word. Dit moet die fondasie wees waarop beleid gebou word,” het Van Zyl gesê.
Mnr. Omri van Zyl, hoofbestuurder van Agri SA, het gesê dat daar wegbeweeg moet word van die term radikale ekonomiese transformasie.
“Ons kan nie dieselfde ding wat al die afgelope tien jaar misluk het oor en oor probeer en ander resultate verwag nie. Dus moet die aanslag verander,” het hy gesê.
Van Zyl het voorgestel dat 10% van die saamgevoegde besteding van die Departement van Landbou, Bosbou en Visserye én die Departement Landelike Ontwikkeling en Grondhervorming (sowat R3 miljard) deur die Land Bank as bemagtigingsfonds aangewend moet word.
“Sodoende kan opkomende boere pragmaties finansieel ondersteun word.”
En daarmee moet privaatkolleges en voorligtingsdienste geprivatiseer word. “Voeg die kommoditeitsorganisasies en die sektor hierby en dit is ’n heeltemal nuwe speelveld met gelyke kanse vir almal,” het Van Zyl gesê.
Samewerking
Dr. Theo de Jager, president van die Wêreldlandbou-organisasie (WLO), het ’n verenigde stem vir die landbou voorgestel.
“Die kwessies waaroor ons verskil is veel minder as dit waaroor die verskillende landbou-organisasies saamstem. Dit maak dus meer sin om hierdie debatte onder mekaar onder een sambreel te voer en daarna met een stem die regering te nader met oplossings,” het hy gesê.
Mnr. Aggrey Mahanjana, hoofbestuurder van Afasa, het met De Jager saamgestem en ’n gesamentlike konferensie voorgestel.
“Dit kan nie net die leierskap van die verskillende organisasies wees wat hieroor moet praat nie. Boere moet ook die geleentheid kry om met mekaar te praat. Daar is reeds wit en swart boere wat suksesvolle vennootskappe bedryf en dit is hulle wat nodig is om tydens ’n gesamentlike konferensie hulle ervarings te deel,” het Mahanjana gesê.