
“Die tyd vir praat is verby! Politici kan gewoonlik met mooipraatjies wegkom maar ons val nie meer almal daarvoor nie. Ons is moeg daarvoor dat die stelsel blameer word. Boere is gatvol en dit wat onder studente gebeur gaan ook oor grond gebeur as kwessies nie opgelos word nie.”
Met dié woorde het mnr. Ronnie McKenzie, ’n varkboer van Magaliesburg, baie verteenwoordigers se siening by die African Farmers’ Association of South Africa (Afasa) se jaarkongres buite Pretoria opgesom. Dit was nadat mnr. Gugile Nkwinti, Minister van Landelike Ontwikkeling en Grondsake, hulle toegespreek het.
“Moenie my blameer vir die mislukkings van die Departement van Landbou, Bosbou en Visserye (DAFF) nie,” het Nkwinti kort voor dit in sy toespraak gesê. Hy het verwys na die Regering se herkapitaliseringsprojek (Recap) wat deur sy departement hanteer word, maar nie deel van sy mandaat is nie en waarvoor hy ook geen begroting ontvang nie.
Program skuif volgende jaar
“Ons gebruik 25% van die geld wat ons vir grondverkryging moet gebruik, sedert 2010 om aan Recap te bestee. Daar is nou ooreengekom dat die program van volgende jaar af na DAFF toe gaan. Hulle sal nou die geld moet vind om plase te ontwikkel en nuwe boere te ondersteun. Dit is dan DAFF se baba.”
“Niemand gaan aan my begroting raak nie. Ons gaan grond daarmee koop. Julle gaan die grond kry, maar niks daarop kan doen nie. As daar nie ondersteuning is nie sal die probleem net erger raak.”
Ondersteuning vir begunstigdes van grondhervorming, saam met behoorlike eiendomsreg, is juis Afasa se grootste twee kwellinge. “Geen nuwe boere kry titelaktes nie en dit laat almal baie kwesbaar. Hulle is soos plakkers op die grond. Ons is bang!” het mnr. Aggrey Mahanjana, sekretaris-generaal van Afasa, gesê.
Recap-plase sloer so lank
’n Groot klagte is dat bruikhuurkontrakte op Recap-plase lank sloer en dat boere sonder enige geskrewe ooreenkomste oor huurgeld al opgeskroef word om te betaal. “Nuwe boere eis ook geskikte en omvattende steun om tot kommersiële vlak te ontwikkel. Meer as R2 miljard is al bestee, maar 'n mens kan nie op die grond sien nie. Steun moet geteikende programme wees. Geld moet nie net rondgegooi word nie.”
Lees ook: Staat se steunprogramme werk nie
“Sodra die Regering met een program misluk, val hy terug op beplanning en dit raak ’n eindelose proses. Op die oomblik is daar 100 mense wat vir vyf weke in ’n hotel sit om te beplan aan Operasie Phakisa. Eers was dit CADAP, toe APAP nou Phakisa en ek kan met 100% sekerheid sê daar gaan volgende jaar ’n nuwe een wees.”
Nkwinti het gesê aanbevelings wat Afasa maak oor hoe sake reggestel kan word is, met ’n aanpassing hier en daar, heel haalbaar.