
Die organisasie het tydens die vergadering in Durban ook sy tiende bestaansjaar gevier.
Van die griewe wat geopper is, sluit in verreweg die meeste ontwikkelende boere se volgehoue stryd om toegang tot meer winsgewende formele binnelandse en uitvoermarkte, wydverspreide moorde, aanvalle en ander misdaad teen die nasionale boeregemeenskap op alle skale en nietige betekenisvolle transformasie binne Suid-Afrika se landbouwaardekettings om voorsiening te maak vir veel groter deelname deur ontwikkelende boere.
Ander griewe was dat baie ontwikkelende boere wat soms dekades lank reeds landbougrond van die staat huur, steeds nie titelaktes op hierdie grond gekry het nie, dat verreweg die meeste watergebruiklisensies in wit boere se hande gebly het en dat die verwerking van aansoeke om watergebruikslisensies deur ontwikkelende boere dikwels buitensporig lank geduur het, dat wettige uitstaande grondeise blykbaar tot stilstand gekom het ten gunste van mynmaatskappye, en dat die staat se proses vir die keuring van begunstigdes vir grondhervorming en landbou-ontwikkeling nie deursigtig was nie.
“Dit is jammer dat ons swart boere ná 28 jaar van demokrasie steeds in sale bymekaarkom om vir mooi uitsprake hande te klap, maar niks gebeur regtig daarna nie. Daar is steeds groot ongelykheid in Suid-Afrika se landbouwaardeketting. Gedurende die apartheidsjare het ons wit eweknieë die regering van daardie tyd vir hulle laat geleenthede skep. Ons het ’n doelgerigte regering nodig wat nou dieselfde vir ons swart boere doen,” het mnr. AJ Mthembu, Afasa se president, gesé.
Mnr. Keith Middleton, voorsitter van AFASA se waterkomitee, het gekla dat Suid-Afrika se demokraties verkose regering die land se ontwikkelende boere op baie maniere in die steek gelaat het. Dit was dikwels as gevolg van korrupsie binne die staatstrukture wat veronderstel was om die ontwikkeling van hierdie spesifieke boere te ondersteun.
“Ons is nou in ’n situasie waar die toekoms van ons kinders, ons jeug, in gevaar is. Hoe kan ons meeding teen kommersiële boere wat dikwels reeds tweede geslag, derde geslag of meer op hul eie grond is? Hier het ons swart boere wat nog nie eens ’n eerste geslag wat grond besit nie. Dit is tyd dat ons swart boere die regering spertye begin gee waarin hy moet bereik wat ons wil hê,” het Middleton gesê.
Laai die Landbou.com-app af en lees jou landbounuus direk op die app. Dié app is beskikbaar in die Apple-, Android- en Huawei-winkels.