
Breytenbach was die hoof van die uitbreiding van Suid-Afrika se private hernubare energieprojekte. Sy is gevra om haar pos te verlaat nege maande voordat haar kontrak sou verstryk.
Sy het aan Bloomberg gesê sy is geen rede gegee waarom sy die pos moet ontruim nie, maar het bygevoeg dat die departement van energie iemand anders wil aanstel.
Intussen het mnr. Kevin Mileham, die DA se skaduminister van minerale hulpbronne en energie, ’n skrywe gerig aan mnr. Gwede Mantashe, minister van minerale hulpbronne en energie, en klarigheid romdom Breytenbach se verwydering gevra.
Mileham het gesê dit is skokkende nuus, veral omdat Breytenbach die steun gewerf het van vooraanstaandes in die energiebedryf vir ’n program wat beskou word as een van die beste in die wêreld wat belegging in son- en windkrag betref.
“Haar dienstyd is gekenmerk deur beleggings van R209 miljard in die suksesvolle aanpak van 112 hernubare energieprojekte. Sy het hierdie mylpale bereik sonder om die knie te buig voor korrupsie of politieke druk.”
Mileham het gesê haar verwydering is ’n aanduiding dat Mantashe en sy span nie ten gunste is van die land se verkrygingsprogram vir onafhanklike produsente van hernubare energie (REIPPP) nie, wat fiskale druk verhoog. Daarom moet Mantashe antwoorde aan die parlement verstrek oor of onafhanklike kragvoorsieners deel vorm van die geïntegreerde hulpbronneplan (IRP) en wat sy visie vir energiesekerheid vir Suid-Afrika is.
Mantashe moet ook redes verstrek waarom Breytenbach voor die verstryking van haar kontrak uit haar pos gedwing is. Hy moet aandui of hy die vyfde bodtydperk gaan open sodat onafhanklike produsente van hernubare energie kan meeding om ’n aandeel van die land se energievereistes. Landbou.com wag tans op terugvoering van die departement van energie ná navrae oor Breytenbach se verwydering uit haar pos en die publisering van die IRP.
Ontvang die nuutste landbounuus en -raad in verskeie bedrywe - teken HIER in vir een van ons nuusbriewe. Volg ons op WhatsApp om daaglikse landbounuus op jou selfoon te ontvang.