
Mnr. Chris Venter, hoof uitvoerende beampte van Afgri, het by die bekendmaking van die borgskap gesê die maatskappy is opgewonde daaroor “ om met ’n wenkultuur verbind te word” .
Afgri is 90 jaar oud en die Blou Bulle 75. Die twee maatskappye het in ’n verklaring gesê hulle glo albei in transformasie, taaiheid en ’n veggees.
Mnr. Barend van Graan, hoof uitvoerende beampte van die Blou Bulle-maatskappy, het Afgri se borgskap verwelkom en gesê hy sien daarna uit om op die veld maar ook elders met Afgri saam te werk.
Die Blou Bulle streef daarna om die spel op professionele vlak te bevorder en verbeter en om dieselfde op gemeenskapontwikkelingsvlak te bereik deur die skep van geleenthede vir jong rugbyspelers, het Van Graan gesê.
Volgens Afgri sal hy deur sy borgskap bydra tot die ontwikkeling van sport, spelers en gemeenskappe. Me. Wilna du Plessis, bestuurder van bemarking en geleenthede by Afgri, het gesê as deel van die borgskap sal Afgri se naam op die mou van die Blou Bulle se truie asook op die spelers se broeke te sien wees.
Dit is nie die eerste keer dat Afgri by ’n sportborgskap betrokke is nie. Die maatskappy borg ook Tukkies se eerste rugbyspan en hy is betrokke by skoleatletiek. Vir die maatskappy is korporatiewe maatskaplike belegging belangrik, veral waar jong mense betrokke is, het sy gesê.
Byskrif: Pierre Spies, Blou Bul-kaptein, en mnr. Barend van Graan, hoof uitvoerende beampte van die Blou Bulle-maatskappy, oorhandig 'n getekende Blou Bul-trui met die Afgri-logo op die mou aan mnr. Chris Venter, hoof uitvoerende beampte van Afgri.