
Die transaksie, waarin elke party ’n 50%-aandeel sal hê, moet deur die mededingingsowerhede en die onderskeie maatskappye se direksies goedgekeur word.
Partrite, Afgri se groothandelsfiliaal, word by die transaksie ingesluit, maar Afgri se John Deere-agentskappe word daarby uitgesluit.
Afsonderlike handelsmerke, soos Town and Country, Farm City en Senwes Village sal in die onderskeie sakegebiede behoue bly, volgens ’n persverklaring wat gesamentlik deur die twee besighede uitgereik is.
Mnr. Chris Venter, besturende direkteur van Afgri, het in ’n SENS-verslag gesê dat dié samesmelting skaalekonomie teweeg sal bring en terselfdertyd Afgri se besigheid sal diversifiseer.
‘‘Die amalgamasie van ons kleinhandelsnetwerk met dié van Senwes, saam met die aankoopsmag van Partrite, skep ’n baie doeltreffender struktuur vir Afgri en Senwes in die kleinhandelsomgewing. Albei maatskappye het ’n bewese geskiedenis in die bestuur van landbou-kleinhandelswinkels en is veral sterk ten opsigte van regstreekse verkope, wat die huidige netwerk grootliks sal verbeter."
Mnr. Francois Strydom, besturende direkteur van Senwes, sê dié beoogde transaksie sal die maatskappy op verskeie maniere bevoordeel. Een van die voordele sal wees dat Senwes vir die eerste keer die groothandelsarena sal kan betree.
‘‘Albei maatskappye kan voordeel trek deur die kombinering van kragte in hierdie hoogs mededingende kleinhandelsmark en terselfdertyd verseker dat hul onderskeie klantebasisse in die voordele van ’n volhoubare plattelandse kleinhandelsmarkspeler deel.’’
Al is dié transaksie onderhewig aan voorwaardes meen albei maatskappye dat die beplanning tot ’n welvarende vennootskap sal lei.