
Twee beskuldigdes wat aangekla word van onder meer die moord op mnr. Terence Tegg, die oud-Recce wat tydens die Clover-staking dood is, asook poging tot moord op mnr. J.J. Cassanga, een van die wagte wat tydens die aanval ernstig beseer is, se borgtogaansoek sou gister (16 Maart) in die landdroshof in Tembisa aangehoor word.
AfriForum, wie se private vervolgingseenheid Tegg se verloofde, me. Michele Bebbington, asook die Cassanga-familie bystaan, sê die borgtogaansoek is op versoek van die verdediging tot 24 Maart uitgestel.
Die burgerregte-organisasie sê sy private vervolgingseenheid staan die families en geliefdes by om te verseker dat die saak die nodige aandag geniet. Cassanga is onlangs uit die hospitaal ontstaan.
Adv. Gerrie Nel, hoof van die eenheid, sê in ’n verklaring dat lede van die polisiebestuur aan AfriForum ’n boodskap gestuur het dat hulle die eenheid se betrokkenheid by die saak verwelkom.
AfriForum sê die uitstel van die borgtogaansoek volg nadat die beskuldiges se regsverteenwoordigers aangedui het dat hulle nie gereed was nie. Dit was omdat hulle eers gisteroggend daarvan bewus geword het dat bykomende klagte, onder meer kwaadwillige saakbeskadiging en roof, tot die klagstaat gevoeg is.
Dié klagte het gevolg nadat dit aan die lig gekom het dat die stakers Tegg en Cassanga na bewering van hul vuurwapens beroof het en dat Tegg se beursie gesteel is.
“Ons sal voortgaan om Michele, die Tegg-familie en die Cassanga-familie by te staan, asook om saam met die ondersoekbeampte en nasionale vervolgingsgesag te werk om te verseker dat geregtigheid geskied,” sê Nel.
“Hierdie was ’n wrede aanval op mense wat bloot hul werk wou doen. Die vermeende aanvallers het geen respek vir die reg getoon nie.”