Sou mnr. Julius Malema, leier van die ANC-jeugliga, nie aan die hofuitspraak oor “Skiet die boer” gehoor gee nie, is AfriForum reg om hom te laat vervolg.
Mnr. Kallie Kriel, uitvoerende hoof van dié burgerregte-organisasie, sê: “Ons is tans reg vir enige gebeurlikheid. As hy weer die lied in die openbaar sing, is ons reg om hom op ’n kriminele klag van minagting van die hof te laat vervolg. Ons is ook gereed as hy besluit om appèl teen die bevinding aan te teken.”
Die organisasie het met die samewerking van die TLU SA in Maart verlede jaar ’n klag teen Malema gelê ná hy die lied “Skiet die Boer” op verskeie saamtrekke van die ANC-jeugliga gesing het.
Drie dae
’n Kostebevel is ook teen Malema uitgereik. Hy moet drie dae van die twee weke lange verhoor, wat in April die jaar aangehoor is, se regskostes dra. Dié bevel sluit AfriForum en die TLU SA se regskoste in.
Regter Colin Lamont het bevind dat Malema nie vir die volle twee weke se regskoste verantwoordelik gehou kan word nie. Só ’n verhoor duur gewoonlik drie dae, maar omdat Lamont ekstra getuienis toegelaat het, het dit twee weke lank geduur.
Kriel bestempel die uitspraak as baie meer as ’n oorwinning van AfriForum oor Malema: “Dit is ’n oorwinningsbeginsel van wedersydse erkenning en respek tussen gemeenskappe oor die kultuur van disrespek en polarisasie wat deur Malema voorgestaan word.”
Intussen het die TLU SA die ANC en Malema gevra om die uitspraak te aanvaar sodat ’n vreedsame naasbestaan en wedersydse respek in die land bevorder kan word.
Landelike geweld
Luidens ’n verklaring vra die organisasie die Regering om in die lig van die uitspraak opnuut aandag te gee aan geweldsmisdade op plase en op kleinhoewes.
“Dit is dringend noodsaaklik dat die werklike omvang daarvan bekend gemaak word. As die SA Polisiediens inligting kan byhou van aanvalle teen SAPD-lede, behoort die instandhouding van ’n soortgelyke databasis van plaasaanvalle ewe haalbaar te wees.”
12 September 2011