Afrika kan selfonderhoudend ten opsigte van voedsel raak. Dan moet sy leiers egter aanvaar dat die landbou nie welsynswerk is wat deur die staat verrig moet word nie, maar ’n sake-onderneming wat winsgewend moet wees, sê dr. Pieter Mulder, adjunkminister van Landbou, Bosbou en Visserye.
Mulder het op ’n konferensie van die vasteland se landbouministers in Lilongwe, Malawi, gesê Afrika voer jaarliks $22 miljard se voedsel van ander vastelande in. Dit sal ’n berekende kopskuif verg om selfonderhoudend te raak.
“In 1960 het Afrika 8% tot die wêreld se landbouproduksie bygedra. Vandag is dit slegs 2%. Berekende vennootskappe tussen regerings en die private sektor, universiteite, die georganiseerde landbou en burgerlike organisasies is nodig om die landbou weer winsgewend in Afrika te kry,” het hy gesê.
Hy sê almal wat by die landbou betrokke is, kleinskaalse sowel as grootskaalse boere, is daar om ’n wins te maak, ’n bestaan te voer en hul lewensgehalte te verbeter.
“Almal wil toegang tot markte hê, toegang hê tot bekostigbare en geskikte tegnologie en ’n ondersteunende beleidsomgewing geniet. Ons in die Regering kan (en moet) hierdie ondersteunende beleidsomgewing skep ter wille van ’n vooruitstrewende, winsgewende en mededingende landboubedryf in Afrika.”
Mulder was aan die hoof van ’n Suid-Afrikaanse afvaardiging wat die Afrika-Unie se konferensie oor voedselsekerheid bygewoon het.
’n Afrika-voedseldag is ook amptelik ingestel en sal jaarliks op 30 Oktober gevier word. Die konferensie is gereël na aanleiding van dr. Bingu wa Mutharika, president van Malawi en voorsitter van die Afrika-Unie, se oproep dat “geen kind in Afrika oor vyf jaar honger bed toe moet gaan nie”.
8 November 2010