Afrikalande het ’n duur les geleer tydens die onlangse voedselkrisis, naamlik dat dit nie meer op duur ingevoerde voedsel of wisselvallige wêreldmarkte kan peil trek om in die vasteland se vraag na voedsel te voorsien nie, sê dr. Akin Adesina, ondervoorsitter van die alliansie vir ’n groen revolusie in Afrika (Agra).
Hy het op die gesamentlike konferensie van die Landbou-ekonomiese Vereniging van Suid-Afrika (Levsa) en die Afrika-vereniging vir landbou-ekonome in Kaapstad gesê in Afrika het voedselsekerheid boonop ’n kwessie van nasionale en streeksveiligheid geword wat nie langer aan die wisselvalligheid van markte oorgelaat kan word nie.
Adesina het aan die sowat 400 afgevaardigdes op die konferensie gesê dat dekades van “ingevoerde” beleidsbenaderings Afrika se vermoë om in ’n noemenswaardige produsent en uitvoerder van voedsel te verander, ondermyn het.
“Die wêreldwye finansiële krisis het die tekortkominge in markmodelle getoon toe selfs ontwikkelde ekonomieë begin het om meer in die landbou in te meng om die uitwerking van mislukte markte te versag.”
Hy het ’n oproep gedoen op die regerings van Afrikalande om meer ondersteuning aan hul landbousektore te gee. “Die boere van Afrika kry die minste regeringsteun van alle boere in die wêreld, dog in sommige Afrikalande verskaf die landbou 75% van alle werksgeleenthede.”
“Afrika het al vantevore die prys betaal van beleid wat van buite op ons afgedwing is, beleid wat ‘een grootte pas almal’-tipe maatreëls probeer toepas het, maar wat nie rekening gehou het met die werklikhede van Afrika-ekonomieë nie.
"Dit is nou tyd vir regerings van Afrikalande om hul eie beleid te ontwikkel vir groter groei in die landbou. Daarmee bevorder ek nie staatsbeheer van die landbou nie, ek vra net dat die staat nie opsy staan en die landbou aan die markte oorlaat nie.”
29 September 2010