
Dr. Pieter de Kock, vorige voorsitter van die Afrikaner-beestelersgenootskap (ABTG), saam met wie Van der Linde in die raad gedien het, en sy vrou, Elbie, het die volgende huldeblyk gelewer:
“Ons het hom gedurende die 1970’s leer ken as mede-student in die BCom- en ekonomie-rigting aan die Universiteit van Pretoria. Ná sy studies het hy besighede op Standerton behartig en hy was deels by boerdery betrokke. Toe sy pa, Nic, eienaar van Geelbos Afrikaners, dorp toe trek, het David by al sy ander belange – wat besighede, saaiery en wedvlug-duiweboerdery insluit – homself ten volle op Afrikaner-beesteling toegespits.
“David het van die beste Afrikaner-beesteelmateriaal op die Hoëveld saam met sy pa bestuur en Geelbos was die verskaffer van topteelmateriaal wat oral in Suid-Afrika aangepas het; ook ons suur bergveld van Thabazimbi. Nic het jare lank in die raad van die ABTG gedien. Ná sy pa se afsterwe het David hierdie leiersposisie oorgeneem, is tot die raad van die ABTG verkies en het twee termyne as voorsitter gedien.
“David was integraal betrokke by die stigting van die produksie-bevorderingsgroep wat gelei het tot die weeg en meet van die Afrikaner; baanbrekerswerk.
“David het later ’n simposium by die Universiteit van Pretoria gereël waar kundige akademici en boere teenwoordig was en die wetenskaplik gefundeerde infusie van gene in die Afrikaner-beesras van stapel gestuur is. Dit het gelei tot die stigting van die infusiegroep van ses telers wat die proef aangepak het; weer baanbrekerswerk wat die Afrikaner-bees verder markverwant gemaak het.
“David het later steeds as bestuurslid saam met sy seun, Nic, ’n ongeëwenaarde Afrikaner-beeskudde opgebou met beeste wat in die hedendaagse mark kompeterende juwele is. Hy het sy kennis met telers gedeel tydens kursusse, demonstrasies op boeredae, skoue en studiegroep-byeenkomste. David was een van ’n groep telers wat as stoetmeesters bekend staan. Die verlies van sy aanvoeling, evalueringsvermoë en kennis van beeste sal deur die beeswêreld en veral Afrikaner-beestelers gemis word.
“Ons Afrikaner-beesboere en die hele beesbedryf is armer sonder hierdie telingsreus.”Laai die Landbou.com-app af en lees jou landbounuus direk op die app. Dié app is beskikbaar in die Apple-, Android- en Huawei-winkels.