
Veekundiges meen dat die telers van Afrikanerbeeste op ’n goudmyn sit, sê mnr. Pierre Fouché, voorsitter van die Afrikanerbeestelersgenootskap van Suid-Afrika.
Fouché het op die genootskap se eeufeesdinee naby Hoopstad gesê die verandering in klimaat en die hoë mieliepryse gaan hand aan hand met die besondere eienskappe van die Afrikaner om dit van die veld af te bemark.
“Ons beleef tans ’n goeie terugkeer na die Afrikanerras – wat net weer bewys dat dit voorwaar ’n ras met puik eienskappe is.
Regmatige aandeel
“Die vraag ontstaan hóé ons as telers hierdie goudmyn gaan ontgin om ons regmatige aandeel in die mark terug te wen.”
Die bestuur van die genootskap het ’n groot verantwoordelikheid om besluite uit te voer. “Net soos ons ook elke dag in die landbou voor groot uitdagings staan, staan ons ook as genootskap voor groot uitdagings.
“Daarom het die genootskap elkeen se bydrae nodig om vir nóg ’n 100 jaar só sterk te kan staan,” sê Fouché.
“Ek weet ons kan staatmaak op die Afrikanerbees en ons het nog altyd ’n wenner in dié rooi beeste. Ons hoop die volgende 100 jaar gaan net só geseënd wees soos die vorige 100 jaar.”