
Mnr. David Mthombeni, ondervoorsitter van Agda, het op ’n mediadag van Agbiz gesê die agentskap het deur ’n vennootskap met Absa en die Ontwikkelingsbank van Suider-Afrika meer as 1 200 huishoudelike boere deur ’n groei-tot-markprogram in produksie opgelei. Altesame 80% van die mense wat opgelei is, is jong mense.
Volgens Mthombeni het Agda tans sowat R3,2 miljard se moontlike kommersiële projekte. Hy is besig om kapitaal vir dié transaksies in te samel.
Agda is verder besig om verskeie waardekettinggeleenthede in Limpopo saam met die mynsektor te ontwikkel. Dit sal volgens hom ’n beduidende uitwerking op werkskepping hê.
Agda is in 2018 onder leiding van die In Transformasie-inisiatief gestig nadat pres. Cyril Ramaphosa ’n beroep gedoen het dat vennootskappe gesluit moet word om werkgeleenthede te skep en inklusiewe groei en transformasie te bevorder.
Die agentskap is daarop gerig om onder meer hulpbronne te mobiliseer sodat die ontwikkeling van nuwe toetreders tot die landbou asook nuwegeslagboere ondersteun kan word en om ’n nuwe geslag boere, hoofsaaklik voorheen benadeelde persone, te help om kommersiële boere te word.
Agda wil onder meer bestaansboere help wat hulle toespits op voedselsekerheid, maar ook gedeeltelik ’n kommersiële opbrengs het, kleinskaalse en subkommersiële boere wat steun nodig het om hul produkte op die mark te kry, en Agda-lede, hoofsaaklik swart boere, wat hulp nodig het met boerderybedrywighede.
“Vennootskappe en samewerking is die sleutel om langtermyngroei en ontwikkeling te verseker en is die kern van Agda se modelle vir inwerkingstelling en lewering,” het Nthombeni gesê.Laai die Landbou.com-app af en lees jou landbounuus direk op die app. Dié app is beskikbaar in die Apple-, Android- en Huawei-winkels.