
Die markagentskap Farmers’ Trust het misluk in ’n hofaansoek teen die Mededingingskommissie se beslaglegging op handelsinligting as deel van ’n ondersoek na beweerde kartelvorming deur verskeie markagentskappe.
Terwyl dié uitspraak hangende was, kon die kommissie nie voortgaan met sy ondersoek nie.
Mnr. Elfranco Hoogenhout, Farmers’ Trust se uitvoerende hoof, het die uitspraak as teleurstellend beskryf, en gesê die kommissie se klagte teen die markagente was “vaag, verwarrend en veralgemenend van aard”.
Ongegronde aannames
“Dis onregverdig en verregaande dat enigiemand op ongegronde aannames ’n wilde aantyging kan maak en dat ’n ondersoek dan volg, sonder enige tasbare bewyse, en dit alles dan aan die groot klok gehang word,” het hy gesê.
“Ons as markagente het slegs ons integriteit en vertrouensverhouding met boere en kopers waarop ons kan staatmaak vir ons bestaan. Hierdie tipe ongegronde aantygings rig groot skade aan.”
Hoogenhout sê uit samesprekings met die kommissie het dit geblyk amptenare was nie eens bewus dat daar handelsvloere in die bedryf bestaan nie. Farmers’ Trust is die enigste agentskap wat regstappe teen die kommissie gedoen het.