Agri Megaweek het vanjaar positiewe terugvoer rondom die nuwe uitstalfasiliteite van die BKB Veesentrum gekry.
Die 6 000 m² perseel is ‘n groot aanwins vir die ekspo en het sowat 200 uitstallers, drie veeringe, die Bayer-plaaswerf en ‘n lesingsarea geakkommodeer. Die BKB Veesentrum het ook gesorg dat besoekers droog bly veral op die eerste dag toe die ekspo met triestige weer begin het.
Mnr. Orton King, groep uitvoerende direkteur van Agri Mega, sê sy ervaring van Agri Megaweek 2010 was positief, maar is te vroeg om te reageer voor die volledige prentjie op die tafel is. “Dit was egter uit die oog van deelname, kwaliteit, uitstalstandaarde, aanbiedingstandaarde en besoeke, voorwaar ‘n uitstekende ekspo.”
Hy het elkeen bedank wat met doelgerigte insette ‘n waardevolle bydrae gemaak het. “Elke inset wat tot waardetoevoeging bygedra het,word met opregtheid waardeer. Dit is tydens geleenthede soos hierdie wat ons as landbou-rolspelers die werklike waarde van vennootskappe in landbou kan ervaar.”
Sowat 380 binne- en buite uistallers het tydens Agri Mega Week die sowat 35 ha met ‘n wye verskeidenheid van uitstallings gevul. Ongeveer 14 verskillende inligtingsprogramme is oor die drie dae aangebied met tientalle sprekers wat tydens hierdie geleenthede opgetree het en sowat agt verskillende skoue en kampioenskappe het in die BKB Veesentrum plaasgevind.
Wat besoekersgetalle betref, het die tweede dag beslis die meeste besoekers opgelewer. ‘n Finale besoekersgetal sal egter eers later bekend gemaak kan word.
King het Agri Mega Week se borge bedank met spesifieke verwysing na FNB, die Departement van Landbou – Wes-Kaap en Total SA. Hy het sy waardering uitgespreek vir die volgehoue ondersteuning en deelname aan Agri Mega Week 2010.
Agri Mega Week 2011 se datums is reeds vasgestel en gaan volgende jaar vanaf Donderdag, 15Saterdag tot 17 September 2011 plaasvind. Voorbereidings vir hierdie ekspo het reeds begin.
27 September 2010