
Lemmer is sedert Maart 2018 heeltyds betrokke by die familieboerdery op die plaas Lemmersville. Die boerderyvertakkings bestaan uit 80% mielieproduksie en 20% beesproduksie. Hy het ’n graad in meganiese ingenieurswese aan die Noordwes-Universiteit verwerf. Ná afloop van sy studie het hy drie jaar as ’n stelselingenieur by die Matimba-kragsentrale gewerk voor hy by die familieboerdery betrokke geraak het.
Hy het op die toekenningsgeleentheid by Senwes se hoofkantoor in Klerksdorp gesê dit gaan op die oomblik baie goed met die landbou in Suid-Afrika, veral danksy goeie reën, belowende oeste en goeie pryse in beide die gewas- en veebedryf. “My boodskap aan boere is om in ’n goeie jaar soos hierdie ’n Josefsbeleid te volg en voorsiening te maak vir tye wanneer dit nie so goed sal gaan nie. Ons moet verstandig met ons geld werk en goeie rentmeesterskap toepas.”
Mnr. Francois Strydom, uitvoerende groephoof van Senwes, het gesê mense besef nie in watter fantastiese posisie die landbou op die oomblik is nie. Verlede jaar was die tweede grootste uitvoerjaar in die geskiedenis in randwaarde naas 1994 toe die landbou gehelp het om die land te stabiliseer te midde van groot politieke verandering.
“Veilige, voldoende en bekostigbare voedsel speel ’n ongelooflik rol in ’n land se stabiliteit en ek meen ons het weer ’n bietjie onder die indruk daarvan gekom verlede jaar met die Covid-19-pandemie. Die ekonomiese groei in al die sektore was negatief en met 13,1% positiewe groei het landbou ’n belangrike stabiliserende rol gespeel.”
Hy het gesê graan is maar die vyfde grootste uitvoerkommoditeit vir die Suid-Afrikaanse landbou. Dit is eers sitrus, druiwe, appels, pere en dan graan. Hy glo die geleenthede vanjaar is nog groter as verlede jaar. Kommoditeite se volumes is hoër, pryse lyk goed en as die rand – wat op die oomblik besonder sterk is – begin verswak, is daar nog verdere potensiaal.
“Ons het uitnemende boere met uitnemende produksievermoë en dit lê nou in jong boere soos julle se hande. ’n Plaas ontwikkel nie in een geslag nie. Daar moet oor geslagte heen gebou en verbeter word. Ek meen ons gaan terugkyk na die tydperk 2020 tot 2030 as die dekade wat die heel belangrikste nog ooit uit ’n monetêre oogpunt was. Dit bring ongelooflike geleenthede as mens dit nou kan benut.”
Die ander finaliste in die kompetisie was mnre Christo Greyling van Agri Sannieshof en Andries Coomans van Agri Excelsior.