Agri NW het sy nuwe voorsitter en ondervoorsitter by sy jaarkongres in Rustenburg verkies.
Mnr. Cor Jansen van Vuuren is as die nuwe voorsitter en mnr. Daan van der Merwe die ondervoorsitter gekies. Die kongres, waarby verskeie sprekers was, is gekenmerk deur vooruitstrewende voorstelle en kongresbesluite wat krities belangrik is vir die voortbestaan van volhoubare en welvarende kommersiële landbou in Noordwes.
Mnre. Johannes Möller, voorsitter en Hans van der Merwe, uitvoerende direkteur van Agri SA, het ook kongresgangers oor die hantering van nasionale en internasionale landbouvraagstukke ingelig.
Mnr. Andries Beyers, uitredende voorsitter van Agri NW, het ‘n toekomsdroom in sy presidentsboodskap uitgestippel wat tekenend is van stabiliteit, volhoubaarheid en welvaart vir almal in Suid-Afrika. Hy het veral die belangrikheid van spanbenadering en spanwerk beklemtoon.
Mnr. Theo Venter, van die Noordwes-universteit, het aan kwessies geraak soos die uitdaging vir die aanvaarding en uitoefening van burgerlike regte en verantwoordelikhede deur lede van Agri NW in ‘n veranderde samelewing.
21 September 2010