Agri SA eis sowat R99 miljard van die Minister van Mynwese vir verliese wat boere gely het nadat die staat in 2004 beheer oor mineraalregte geneem het.
Luidens ‘n berig op Fin24.com kom die organisasie se regsaak in dié verband die week in die Noord Gautengse Hooggeregshof voor.
Adv. Cassie Bardenhorst, regsverteenwoordiger vir me. Susan Shabangu, die betrokke minister, het Maandag (4 Oktober) aan die hof gesê dat die totale waarde van die eise R99 miljard beloop en dat een regsfirma namens 1 100 boere, met eise ter waarde van R32 miljard, optree.
Volgens hom sluit die R99 miljard altesaam R47 miljard se ongebruikte regte in.
Agri SA getuig
Agri SA eis vergoeding vir sy lede van Shabangu aangesien die organisasie meen die instelling van die Wet op die Ontwikkeling van Minerale en Petroleumhulpbronne in 2004 het lede van hulle mineraalregte onteien.
Die wet maak die staat die bewaarder van die land se minerale rykdom tot die voordeel van alle Suid-Afrikaners.
Waarnemende Regter Hans-Joachim Fabricius het adv. Gerrit Grobler, Agri SA se regsverteenwoordiger, opdrag gegee om Dinsdag (5 Oktober) die hof in te lig oor hoe hy meen die onteiening van die mineraalregte plaasgevind het.
5 Oktober 2010