
Dit volg kort na ’n aankondiging van Vox Telecom wat ook ’n breëband-satellietdiens vir landelike gebiede beoog. Vodacom Business, die besigheidsafdeling van Vodacom, gaan die satellietgebaseerde spraak- en datastelsel vestig. Tien aanvangsprojekte begin binnekort om die stelsel te toets.
Die ooreenkoms volg op ’n besluit tydens Agri SA se kongres verlede toe opdrag gegee is om ’n alternatiewe kommunikasiestelsel vir landelike gebruikers te ondersoek. Agri SA het toe deur ’n proses gegaan om moontlike alternatiewe te evalueer.
“Ons glo dat Vodacom goed geposisioneer is om die nodige dienste te verskaf – nie slegs aan ons lede nie, maar ook aan die groter landelike gemeenskap wat grootliks van die landbou afhanklik is vir hul bestaan. Boereleiers sal tydens die landboukongresse wat in die verskeie provinsies aangebied word die kans kry om vertroud te raak met die kommunikasiestelsel,“ het mnr. Johannes Möller, voorsitter van Agri SA, gesê.
Doeltreffende telekommunikasie moeilik
Hy sê die agteruitgang in landelike vastelyn-telefooninfrastruktuur beteken dat doeltreffende telekommunikasie in verskeie streke feitlik onmoontlik geraak het, veral toegang tot die internet, e-posfasiliteite en ook nou spraakkommunikasie. Telekommunikasie vir sakedoeleindes en veiligheid is belangrik vir boere en die groter landelike gemeenskap.
Mnr. Chris Lazarus, uitvoerende bestuurder van Vodacom Business, het gesê die landbou is ’n belangrike sektor vir ontwikkeling, indiensneming en die ekonomie.
“Daar is ook ’n groot opkomende landbougemeenskap wat volgehoue en betroubare kommunikasiemetodes nodig het om hul markte te laat groei. Hierdie vennootskap met Agri SA sal dien as katalisator om ’n werklik mobiele, toeganklike en bekostigbare oplossing na hierdie gebiede te bring,” het Lazarus gesê.