
Mnr. Gugile Nkwinti het die kontroversiële beleid probeer afdwing om beperkings te kan plaas op die omvang van plaasgrond wat mense mag besit, sê mnr. Johannes Möller, voorsitter van Agri SA.
In 'n nuusverklaring ná die Grondberaad van 4 tot 6 September 2014 in Boksburg, sê Möller dat Nkwinti, Minister van Landelike Ontwikkeling en Grondhervorming, kon nie inkoop kry op die Groenskrif-voorstel in die konsultasieproses, wat byna twee jaar lank geduur het nie – maar hy het dit gedurende die doodsnikke van die beraad in Boksburg as 'n resolusie probeer vestig.
“Die minister het ter elfder ure 'n voorstel ter tafel gelê wat nie bespreek is deur die kommissies wat oor die verskillende aspekte van besitreg-hervorming beraadslaag het nie. Dit behels dat klein boere nie meer as 4 000 ha sal mag besit nie, medium boere tussen 4000 ha en 8000 ha en grootskaalse boere ‘n maksimum van 12 000 ha. Hy het toe geëis dat die aanwesiges daar en dan 'n standpunt oor die voorstel moes inneem. Daar was duidelik geen konsensus oor die syfers wat die minister op die tafel geplaas het nie”, het Möller gesê.
“Die minister het landbouers tydens die beraad daarvan beskuldig dat hy hulle meer as voldoende tyd gegee het om met ekonomiese modelle vir verskillende gebiede en bedrywe vorendag te kom waarop die plafonne gebaseer kan word, maar dat hulle versuim het om dit te doen.
“Agri SA is egter vir baie goeie redes in beginsel gekant teen sodanige plafonne en kon daarom nie deelneem aan sodanige oefening nie”, het Möller gesê.
“Dit is tyd dat die Regering ophou om duur, onwerkbare planne uit te dink en miljoene te bestee op berade waar geen ware konsultasie plaasvind nie”, het Möller gesê.
Agri SA sal ook nie beskuldigings aanvaar dat daar nie betyds met ekonomiese argumente vorendag gekom word om die minister se politieke sienings te ondersteun nie. Die minister moet besef dat aspekte soos grondplafonne kwalik deur enige ekonomiese berekeninge ondersteun kan word.
Möller sê dat Agri SA wel intern aandag skenk aan modelle vir grondhervorming wat werkbaar kan wees en sal dit by die organisasie se kongres in Oktober hanteer.