
Die jongste misdaadsyfers wys daar is iets drasties fout in Suid-Afrika, ongeag die covid-19-pandemie, sê Agri SA.
Die organisasie sê hy neem kennis van mnr. Bheki Cele, minister van polisie, se kommentaar dat die pandemie se invloed gedurende die inperking verlede jaar ’n wesenlike verskil in misdaad teweeg gebring het. Cele het vroeër, met die bekendmaking van die misdaadstatistieke vir die kwartaal wat strek van April 2021 tot einde Junie 2021, gesê die skerp styging in misdaadsyfers is die resultaat is van ’n normalisering van statistieke teenoor die ooreenstemmende tydperk verlede jaar toe die land op ’n vlak 5-inperking was wat almal binnenshuis gehou het en waartydens plekke wat drank bedien, toe was.
Die werklikheid bly egter dat 5 760 mense volgens die jongste statistieke in drie maande vermoor is, sê mnr. Uys van der Westhuijzen, voorsitter van landelike veiligheid by Agri SA.
Wat meer kommerwekkend is, is dat ten spyte van die aandklokreël baie van die moorde gepleeg is nadat dit ingestel het. “Die aandklokreël word dus nie ordentlik afgedwing nie. Of dit nou is weens ’n tekort aan personeel, voertuie of hulpbronne, ons is bekommerd daaroor. Wat gaan gebeur as die covid-19-pandemie verby is? Hoe gaan ons normale omstandighede dan lyk?”
Die syfers vir kontakmisdaad lees soos ’n riller. Vir April is dit 50 295, Mei 50 011 en Junie 44 850. Dit is weer eens ’n bewys dat misdaad hoogty vier in Suid-Afrika.
Plaasaanvalle
Die 181 aanvalle op plase en die 15 moorde op plase is ook nie normale getalle vir enige samelewing nie, sê Van der Westhuijzen.
Limpopo het met 57 die meeste aanvalle op plase vir die verslagdoeningstydperk ervaar. Nog ’n bron van kommer is die toename in die moorde van polisielede wat van diens af was. Altesaam 23 polisielede wat nie aan diens was nie, is vermoor teenoor 9 wat aan diens was.
Die vraag is of die oorsake van dié moorde ondersoek word.
Me. Katlego Phala, die DA se woordvoerder vir gemeenskapsveiligheid en wetgewerlid in Limpopo, sê die toename in aanvalle op plase wys dat die landelike veiligheidsplanne nie voldoende hulpbronne het nie en nie behoorlik toegepas word nie.
Vuurwapens
Rakende die wysigingswet op die beheer van vuurwapens, sê Van der Westhuijzen daar sal ’n realiteitsondersoek gedoen moet word. Hoe kan die selfverdedigingskategorie vir wapens weggevat word? Die Grondwet dui duidelik aan dat die polisie se take die voorkoming, bekamping en ondersoek van misdaad is. Volgens Agri SA misluk die polisie veral in die voorkoming en bekamping van misdaad as die statistieke in ag geneem word.
Hy sê wat op voetsoolvlak gebeur, hoe begrotings hanteer word en die doeltreffende funksionering van stelsels kom nie bymekaar uit nie. “Jy kan nie begroot vir die beskerming van belangrike persone ten koste van die bekamping van misdaad in jou gemeenskap nie. Dis dieselfde soos met die wysigingswet op die beheer van vurrwapens waar mense se reg om hulself te beskerm weggevat word, terwyl hulle vermoor en aangeval word.”