Die begrotingsrede vir die landbou word verwelkom, maar nóg meer geld sal in die toekoms in dié sektor belê moet word, sê Agri SA in 'n nuusverklaring.
Agri SA se voorsitter, Johannes Möller, verwelkom Minister Tina Joemat-Pettersson se begrotingsrede wat Donderdag in die Parlement ter tafel gelê is. Dit is in geheel ‘n positiewe begroting en het ‘n aantal kenmerke wat die Regering se doelstelling van samewerking vir voedselsekuriteit ondersteun.
Möller sê Agri SA is dankbaar vir die verhoging in die landboubegroting, wat vanjaar R5,8 miljard beloop. Maar Möller maan dat, gegewe die hoë premie wat op die landbou geplaas word in terme van die doelstellings van die Visie 2030, daar in die toekoms nog meer geld in die landbou, en veral infrastruktuur vir besproeiing, belê sal moet word.
Meer geld sal nodig word
Volgens Möller sal die breër sosiale doelstellings van die Departement van Landbou, Bosbou en Visserye en die Regering, soos die “Zero Hunger”-strategie ook vereis dat die landboubegroting drasties opgeskerp moet word.
Net soos die minister, is Agri SA ook bekommerd oor die impak wat stygende insetkoste, veral geadministreerde pryse, waaronder brandstof en elektrisiteit, op voortgesette produksie in die landbou en gevolglik op voedselpryse sal hê. Dit is Agri SA se missie om volhoubare voedselproduksie te verseker en in die opsig sal Agri SA graag met die minister wil saamwerk om ‘n manier te vind om alle produsente te help om voedsel teen bekostigbare pryse volhoubaar te produseer.
Die landbousektor is in die onlangse verlede uiters negatief geraak deur natuurrampe, soos die vloede van Desember 2010 en Januarie 2011. Agri SA verwelkom in die opsig die reservering van fondse vir die verlening van hulp aan die vloedgeteisterde gebiede en sien met verwagting uit na die implementering van die Vloedhulpskema. Agri SA gee graag sy ondersteuning aan die departement om ‘n stroombelynde administratiewe proses te vestig sodat enige rampsituasie so spoedig moontlik aangespreek kan word.
Dieresiektes het groot uitwerking
Die uitbrake van dieresiektes het ‘n geweldige impak op die totale ekonomie van die land en dus is die beoogde uitbou van kapasiteit binne die departement ten opsigte van die beheer van hierdie tipe uitbrake ‘n stap in die regte rigting, aldus Möller. Die fondse wat hiervoor bewillig is, word dus verwelkom, veral die wesenlike verhoging in die toedeling van fondse vir navorsing in diè verband.
Möller het egter gemaan dat, gegewe die gunstige geluide wat in die begroting gemaak is, die Regering nie die waarde van kommersiële landbou uit die oog moet verloor nie. Die positiewe bydrae wat die primêre landbousektor tot die ekonomie en die rRgering se doelstellings vir werkskepping kan lewer, sal vereis dat kommersiële landbou voldoende steun van die Minister en haar departement, sowel as ander staatsdepartemente, moet kry.
7 Mei 2012