
Nadat die nasionale minimum loon verlede jaar met 16,1% tot R21,69/uur verhoog is, sal dit vanaf 1 Maart vanjaar met ’n verdere 6,9% tot R23,19/uur verhoog word, is vroeër vandeesweek in die Staatskoerant afgekondig.
Mnr. Christo van der Rheede, uitvoerende direkteur van Agri SA, sê luidens ’n verklaring die organisasie besef dat werkers ’n loon moet verdien wat bydra tot die verligting van armoede, asook die verkleining van inkomsteverskille en ongelykheid in Suid-Afrika.
Volgens hom wek die verhoging kommer oor boerderye se winsgewendheid en hul vermoë om tot werkskepping by te dra – veral aangesien boere reeds uitsonderlike verhogings in insetkoste van bemesting tot brandstof- en kragpryse, asook verlede jaar se verhoging in die minimum loon moes absorbeer.
’n Verdere bedreiging vir die landbousektor is volgens hom die swak toestand van landelike en sommige provinsiale paaie. Dit is dikwels onbegaanbaar en maak dit vir boere moeilik maak om hul oeste van die plase te vervoer.
Voeg daarby grootskaalse uitbrekings van bruinsprinkane in gedeeltes van die Noord- en Oos-Kaap, asook verwoestende vloede en haelstorms in onder meer Noordwes, die Vrystaat, Limpopo, KwaZulu-Natal en Mpumalanga wat daartoe gelei het dat sommige boere hul hele oes verloor.
“Suid-Afrikaanse boere geniet nie die ondersteuning wat hul eweknieë in Amerika en Europa het nie. Boere is oor die algemeen prysnemers, wat dikwels moet worstel met ’n gemiddelde winsmarge van 5,97%. Die moontlikheid dat boere hul besighede teen ’n verlies sal moet bedryf, word by die dag groter. Die regering moet ’n beleidsomgewing en infrastruktuur skep ten einde die winsgewendheid van die Suid-Afrikaanse landbou te verseker.”
Tegnologie
Volgens Van der Rheede word dit al hoe aanlokliker vir boere om tegnologie te benut om koste te verminder en steeds winsgewend te bly. “Meganisasie verbeter prosesse en produktiwiteit, en verminder die behoefte aan arbeid. Dit kan ’n verwoestende impak op Suid-Afrika se reeds ongekend hoë werkloosheidsyfer hê, veral onder laaggeskoolde werkers.”
Hy sê gedurende die pandemie het die indiensneming van laag- en halfgeskoolde werkers gedaal, terwyl indiensneming van hooggeskoolde werkers onveranderd was.
“Dit is noodsaaklik om uit te lig dat die verligting van armoede nie net steun op hoër lone nie. Dit moet eerder só benader word dat dit ander maatskaplike en indiensnemingsbeleide aanvul en versterk. Indien daar nie ’n bemagtigende omgewing vir boere en landboubesighede is waar hulle volhoubaar en winsgewend kan bly nie, kan werkloosheid en voedselonsekerheid toeneem.”