
Die tariewe vir die 2020-’21-boekjaar is op 15 Mei 2020 afgekondig. Dit het dadelik in werking getree.
Agri SA sê in ’n verklaring hy het verlede jaar, ná sektor-spesifieke raadplegings op 7 Augustus 2019, gevra dat die styging in die koste van waterhulpbron-infrastruktuur tot 16,5% beperk word, wat bestaan uit 10% plus die produsenteprysindeks van April 2019.
Die organisasie het die voorgestelde toename in waterhulpbronbestuurskoste van 6,5% vir alle waterbestuursgebiede aanvaar, met die uitsondering van die Oranje-bestuursgebied waar ’n styging van 15,66% ingevolge die nasionale waterprysbepalingstrategie voorgestel is.
Die regering het Agri SA se voorstel aanvaar en sy hersiene koste tydens nasionale beraadslagings op 28 Augustus 2019 aangekondig. Dit is dié tariewe wat nou afgekondig is.
Mnr. Wayman Kritzinger, voorsitter van Agri SA se afdeling vir natuurlike hulpbronne, sê die landbou sal na verwagting ernstig beïnvloed word deur die ekonomiese gevolge van die Covid-19-pandemie, asook die gevolge van die voortslepende droogte in dele van die land.
“Die betreklik matige stygings sal aansienlik bydra om die insetkoste en ekonomiese las te verminder en sal verseker dat produksie kan voortgaan,” sê hy.
Agri SA sal voortgaan om met die regering te onderhandel en sy verhouding met die regering te versterk om te verseker dat water nie net bekostigbaar bly nie, maar ook dat die bestuur en regulering daarvan verbeter om sekerheid van waterlewering van gehalte te bevorder.
Dit sal volgens die organisasie tot die handhawing van voedselsekerheid en ekonomiese groei bydra.
Landbouweekblad is steeds beskikbaar op winkelrakke, terwyl sake by https://t.co/J5CsarOmv3 en @landbouweekliks vlot verloop. Lees hier wat jou te doen staan indien jy sukkel om die tydskrif in die hande te kry én hoe jy digitaal kan lees. https://t.co/Ug6tJEMNfl
— landbou.com (@landbou) May 12, 2020