Die Hooggeregshofuitspraak vandag (Donderdag 28 April) in Pretoria deur regter Ben du Plessis dat die Wet op die Ontwikkeling van Minerale en Petroleumhulpbronne (Wet 28 van 2002) inderdaad op 1 Mei 2004 die onteiening van mineraalregte daargestel het, is ’n rigtinggewende uitspraak in Agri SA se jare lange pogings om eiendomsreg te beskerm," sê mnr. Johannes Möller, voorsitter van Agri SA.
Luidens ’n verklaring is die uitspraak uiteindelik gelewer ná ’n jare lange regstryd. Die organisasie sê sy oogmerk met die toetssaak was om die onteiening van mineraalregte te bewys. Dit sal die staat verplig om vergoeding te betaal.
Die uitspraak
Du Plessis het bevind: "For the reasons stated the objects of the MPRDA could not be achieved without depriving mineral rights holders of their property and without vesting in the state similar rights. While not expressly stated, expropriation was one of the purposes of the MPRDA."
Die uitspraak volg op ’n beslissing van regter Hartzenberg in Maart 2009 dat dit vir die houers van ou orde mineraalregte moontlik is om onteiening te bewys.
“Hierdie uitspraak bevestig die fundamentele beginsel in artikel 25 van ons Grondwet dat eiendom nie onteien kan word sonder vergoeding nie," sê Möller.
Die organisasie het sedert 2004 sy lede oor die saak asook oor die wyse waarop eise ingedien moet word, ingelig. Die sperdatum vir die eise is 30 April 2011.
28 April 2011