Agri Wes-Kaap het onderneem om die Wet op Verblyfreg in die hof teen te staan, want dié drakoniese wetgewing sal dit vir boere haas onmoontlik maak om aan te hou boer, aldus mnr. Kosie Loubser, voorsitter van Agri Wes-Kaap.
Loubser het vanoggend (13 April) op die organisasie se streeksvergadering op Worcester gesê velerlei uitdagings staar Wes-Kaapse boere in die gesig. Hul finansiële en ander bydraes wat vanaf landbouverengingsvlak gelewer word, is onontbeerlik vir Agri Wes-Kaap om probleme op te los.
“Die Wet op Verblyfreg se gevolge is verregaande. Ons is oortuig dit is ongrondwetlik en ons sal dit verseker in die hof teenstaan. As die wet voortgaan soos dit is, sal ons nie kan aanhou boer nie,” meen Loubser.
Loubser het ook gesê hulle verwag dat die Regering se groenskrif binne ’n maand die lig sal sien.
Hy het ’n gebrek aan landbounavorsing as nog ’n belangrike probleem uitgelig.
“Ek is ontsteld dat Suid-Afrika vir die eerste keer in die geskiedenis ’n netto invoerder van voedsel is. Een van die redes is navorsing en ’n ander rede is die ondersteuning wat die Regering aan die landbou gee.”
Volgens Loubser is die landbou tans afhanklik van “ingevoerde navorsing”, maar dit is nie altyd op die Wes-Kaap se unieke situasie toepaslik nie. Plaaslike navorsing is baie nodig.
Hy het ook gesê daar is nie genoeg veeaartse in Suid-Afrika nie. “Die feit dat die troeteldierbedryf so ’n gemaksone is en soveel geld maak, is deel van die rede waarom daar nie meer veeartse op die platteland is nie.”
Hy het ook landbou-kolleges as ’n probleem genoem. “Een ding waarsonder ons nie kan klaarkom nie, is die opleiding van jong boere.”
13 April 2011