
Agri Wes-Kaap is steeds op soek na die uitsettingsyfers op plase sodat hulle dit kan ondersoek en optree.
Mnr. Carl Opperman, uitvoerende hoof van Agri Wes-Kaap, sê die organisasie is bewus van wettige uitsettings wat ná hofuitsprake deur die Grondeisehof onder hersiening geneem en toegestaan is.
Hy het kommentaar gelewer nadat die ANC en Cosatu beweer het dat talle werkers van plase afgesit word, onder meer weens die 50%-Nkwinti-grondplan.
Opperman sê wettige uitsettings vind byvoorbeeld plaas wanneer die ekonomiese toestand van die plaas vereis dat werkers verminder word of wanneer ‘n dissiplinêre verhoor tot afdankings gelei het. Wanneer 'n dienskontrak bepaal dat behuising binne 'n sekere tydperk ontruim moet word, moet die regsproses sy gang gaan.
Oor onwettige uitsettings sê hy werkers wat onwettig uitgesit word, behoort hulle na die SA Polisiediens te wend, in plaas daarvan om dit in die media aan te kondig, sodat die regsproses daar óók sy loop kan neem.
“Agri Wes-Kaap het baie meer duidelikheid nodig oor die vaagheid van mediakonferensies wat deur die regerende party oor uitsettings gehou word. Ons wag steeds vir besonderhede oor die getalle van die onwettige plaasuitsettings in die provinsie,” sê Opperman.
* Vroeër het mnr. Alan Winde, Wes-Kaapse LUR vir landbou, die ANC enCosatu gevra om feite oor die beweerde uitsettings vir hom te gee.