Ondernemings met ’n omset van R10 miljoen tot R50 miljoen per jaar en minder as 51% swart aandeelhouding moet kragtens die SEB-kode aan vyf elemente voldoen, waarvolgens hul vlak tussen een en agt vir die sertifikaat bepaal word. Die minimum punte vir vlak agt is 40, teenoor die 30 van die vorige kode.
Die vyf elemente wat gemeet word, is eienaarskap, bestuursbeheer, opleiding, ondernemings- en verskaffersontwikkeling, en sosiaal-ekonomiese ontwikkeling. Drie daarvan is as die voorrang-elemente uitgewys: Eienaarskap, opleiding, en ondernemings- en verskaffersontwikkeling.
’n Onderneming moet minstens 40% van die aantal beskikbare punte in eienaarskap behaal, asook in een van die ander twee voorrang-elemente. As ’n onderneming nie die vereiste punte in die voorrang-elemente behaal nie, word sy vlak volgens al vyf elemente bereken, maar hy word daarna een vlak afgegradeer.