
Die diefstal het in die nag van 30 Desember tussen Reitz en Petrus Steyn plaasgevind, volgens adj.off. Mmaako Mophiring.
“Die polisie op Reitz het omstreeks 02:10 ’n dringende oproep ontvang oor ’n beweerde skaapdiefstal wat besig was om op ’n sekere plaas te gebeur. Die gemeenskapsbeheersentrum het ander polisiebeamptes geaktiveer en hulle kon die verdagtes, wie se klere met bloed bevlek was, opspoor en vastrek.”
Dit het gelei daartoe dat 48 geslagte skape en 40 lewende skape in die veld opgespoor is. Die boer, wie se naam nie in die verklaring genoem is nie, het bevestig dat die 88 skape van hom gesteel is.
Die polisie het agt verdagtes in hegtenis geneem en beslag gelê op vyf voertuie, insluitend drie bakkies en twee sedanmotors. Die verdagtes se ouderdomme wissel van 27 tot 46 jaar. Hulle word van veediefstal aangekla.
Die datum waarop hulle in die landroshof op Reitz verskyn, is nog nie bepaal nie.