
Akademia kry gereeld navrae van jong mense wat in hul moedertaal in ’n landbou-inrigting wil studeer, sê prof. Hannes Rautenbach, dekaan van die fakulteit natuurwetenskappe aan Akademia, wat onderrig in Afrikaans aanbied.
“Die ontwikkeling van Afrikaans het in die geskiedenis baie nou gepaard gegaan met pionierskap en aanpassings in Afrika. Laasgenoemde het baie nou gepaard gegaan met die ontwikkeling van die landbou,” het Rautenbach aan Landbou.com gesê.
“ ’n Mens kan amper sê dat Afrikaans deur die landbou in Afrika wortel geskiet het. Daarom dat ons jong mense nog baie nou verbind voel aan Afrikagrond, veral in die landbou.”
Akademia het ver gevorderde planne om ’n nuwe kampus in die ooste van Pretoria op plaasgrond te ontwikkel, sê dr. Dirk Hermann, bestuurshoof van die Solidariteit-beweging en ’n lid van die Akademia-direksie. Rautenbach sê hier sal ’n proefplaas en laboratoriums ontwikkel kan word, wat die aanbied van ’n landbouverwante graad moontlik sal maak.
Akademia beoog spesifiek om ’n graad in voedselsekerheid aan te bied. “Binne die gebied van voedselsekerheid wil ons ons eerstens toespits op die produksie van die grootste hoeveelheid voedsel in kleiner ruimtes – al ons studente kan nie megaboere word nie – en tweedens wil ons verseker dat ons studente verskillende dienste in die landbouwaardeketting kan lewer,” sê Rautenbach.
“Die landbouveld het in die moderne eeu tot ’n besonder breë veld ontwikkel. Vandag se landbou behels ’n kennis van grond, water, plantkunde, dierkunde, molekulêre selbiologie, die ekonomie, personeelbestuur en nog baie meer. Met presisieboerdery kom ’n kennis van rekenaars ook vandag by.
“Dit begin dus onmoontlik raak om alle kennis wat in die landbouveld benodig word, in een graad saam te vat. In ’n moderne eeu sal ’n mens jou eerder moet toespits op komponente van die landbou. Vir ’n universiteit is dit belangrik om hom eerstens toe te spits op navorsing en nuwe ontwikkeling. Tweedens is dit ook belangrik dat beroepsgeleenthede beskikbaar is.”
Gemeenskaplike waardes
Dr. David Bencsik, hoof van internasionale betrekking aan die MATE-universiteit van landbou- en lewenswetenskappe, een van die grootste hoëronderwysinstellings vir die landbou in Europa, sê hy reken MATE en Akademia het soortgelyke opvoedingsideale en waardes.
Bencsik, voormalige staatsekretaris van die Hongaarse minister van landbou, sê die deel van Hongarye oos van die Donaurivier het verlede jaar ’n baie erge droogte gehad. Dit is die grootste en sterkste landbougebied in die land.
Hongarye was nie gereed vir so ’n droë seisoen nie en tienduisende boere het groot verliese gely. Bencsik sê Hongaarse boere kan by Suid-Afrikaanse boere oor boerdery in droogtetye leer. Terselfdertyd is Hongaarse navorsers op die voorpunt van water- en grondkwessies.
Vir die MATE-universiteit, wat taamlik onlangs tot stand gekom het deur die eenwording van vyf universiteite en 20 navorsingsinstellings, is dit belangrik om in samewerkingsooreenkomste wedersydse voordele na te streef.
Hongarye het onder meer goed ontwikkelde bedrywe vir die produksie van vark- en hoendervleis, asook koring en mielies.
Die land het 10 miljoen mense en is selfvoorsienend wat kos betref. Boere produseer in werklikheid genoeg voedsel vir 20 miljoen mense. Volgens Bencsik kan Hongarye vir 1,5 miljard mense voedsel produseer Hongare buite hul grense beweeg en vennootskappe in ander lande sluit.
Laai die Landbou.com-app af en lees jou landbounuus direk op die app. Dié app is beskikbaar in die Apple-, Android- en Huawei-winkels.