
Al Mawashi SA, die grootste aankoper in Suid-Afrika van lewende hawe vir uitvoer na die Midde-Ooste, sal voortaan slegs van lewendehawe-agente gebruik maak wat by die landbouprodukte-agenteraad (Apac) geregistreer is en ’n goeie reputasie ten opsigte van biosekerheid-gereedheid het, sê mnr. Ilyaas Ally, besturende direkteur van Al Mawashi SA.
Nuwe biosekerheidsreëls vir lewendehawe-agente is verlede jaar en in September vanjaar in die Staatskoerant afgekondig. “Biosekerheid is ’n belangrike aspek van die uitvoer van lewende hawe. Daarom verwelkom ons die reëls en die toepassing daarvan deur ouditprosesse deur Apac,” sê Ally.
“Die reëls tesame met Apac se ouditprosesse verskaf ’n nodige tweede laag van biosekerheid-beveiliging aan die lande in die Midde-Ooste waarheen uitgevoer word, asook aan ons maatskappy nog voor diere by ons voerkraal op Berlin aankom. Daar gaan hulle in uitvoerkwarantyn voor hulle op ons geakkrediteerde skepe gelaai word.”
Hoewel die reëls reeds in November 2020 van krag geword het, is lewendehawe-agente ’n bykomende grasietydperk van ses maande gegun om hulself op die hoogte van die reëls te bring, hulle daarvoor voor te berei en hul biosekerheid teen 30 Junie 2021 gereed te hê. Apac het die reëls amptelik in Julie vanjaar begin toepas. Lewendehawe-agente kan nou deur ’n onafhanklike derde party geoudit word om voldoening aan biosekerheidsreëls te bepaal en te verseker.
Ally moedig rooivleisprodusente en veeboere aan om te verseker dat hul lewendehawe-agente aan al die vereistes voldoen as hulle dié agente wil gebruik om diere aan Al Mawashi SA te lewer. “Deur die afkondiging van die biosekerheidreëls en die afdwinging daarvan deur oudits word biosekerheidsmaatreëls versterk om die verspreiding van siektes te beperk.”
Ally sê die afkondiging van die reëls is ’n teken van die regering se verbintenis tot die volhoubare langtermynuitvoer van lewende hawe na die Midde-Ooste.