
Amptelike syfers toon dat uitsettings van plaaswerkers die afgelope vyf jaar gedaal het. Daar is egter nie sekerheid of onwettige uitsettings in die Wes-Kaap gestyg het nie.
Mnr. Gugile Nkwinti, Minister van Landelike Ontwikkeling en Grondhervorming, het senior amptenare op ’n feitesending na die Wes-Kaap gestuur ná bewerings dat grootskaalse onwettige uitsettings plaasvind.
Mnr. Mcebisi Skwatsha, adjunkminister van die departement, het op die Wes-Kaapse departement van landbou se beraad oor grondhervorming die moontlikheid van ’n moratorium op plaasuitsettings geopper. Volgens hom was daar “sedert April vanjaar altesame 247 wettige én onwettige uitsettings”.
Skwatsha het gesê 163 uitsettings het in die Wynland voorgekom, 10 in Eden, 28 aan die Weskus, 24 in Kaapstad en 22 in die Overberg. Cosatu in die Wes-Kaap en die Wes-Kaapse ANC het dié syfers beaam.
Die amptelike syfers, soos deur die feitesending ingewin, vertel egter reeds 'n ander storie: Mnr. Masipula Mbongwa, adjunkdirekteur-generaal van die departement, het gesê sy span het met munisipaliteite, Cosatu, plaaswerkerforums en ander organisasies vergader om syfers te vergelyk.
Rakende die gerapporteerde gevalle van uitsettings was daar ooreenstemming. Die beweerde voorvalle van onwettige uitsettings word nog ondersoek en daar is nog nie 'n geverifieerde syfer hiervoor nie.
Dié syfers sal waarskynlik binne die volgende twee weke bekend gemaak word.
Me. Vuyi Nxasana, hoofdirekteur vir hervorming van grondbesit by die departement, het gesê hul regspan het sedert 2008 altesame 1 863 kwessies van uitsettings gehanteer.
Sedert die begin van 2014 tot September vanjaar is 134 uitsettings gehanteer. In 2008 is 199 kwessies van uitsettings gehanteer, 450 in 2009, 375 in 2010, 261 in 2011, 276 in 2012 en 168 verlede jaar.
Die meeste uitsetting die afgelope vyf boekjare was in Kwazulu-Natal (437). In die Wes-Kaap was daar 420 uitsettings, 333 in die Vrystaat, 237 in Mpumalanga, 125 in Gauteng, 122 in Noordwes, 92 in die Oos-Kaap, 85 in Limpopo en 12 in die Noord-Kaap.
Die brandpunte vir uitsettings wat geïdentifiseer is, is die Breedevallei, George en die Sederberge in die Wes-Kaap. Die munisipaliteite Dihlabeng en Phumelela in die Vrystaat, Mogale City in Gauteng, Lekwa in Mpumalanga, en Newcastle, Emadlangeni, en die uMngeni in KwaZulu-Natal.