
Grootskaalse bedrog met die BTW op produksiemiddele kan daartoe lei dat die SA Inkomstediens dié vergunning aan boere kan terugtrek, wat ’n nadelige uitwerking op kontantvloei én 'n bykomende rentelas op veral gewasboere gaan hê.
Luidens ’n berig in Rapport ontneem dié bedrog met BTW die land jaarliks ’n belastinginkomste van meer as R2 miljard. Die landbou bestee jaarliks meer as R100 miljard aan insetprodukte.
Dr. Philip Theunissen, ’n landbou-ekonoom en forensiese rekenmeester van Bethlehem, het aan Landbou.com gesê dis jammer dat SAID álle boere wil teiken omdat sommige nie boere van dié bedrog verdink word. “Maar ek verstaan dat SARS dit in ’n baie ernstige lig beskou, want miljoene rande is ter sprake.”
Volgens Theunissen is min boere in die omgewing waar hy werk, se omset kleiner as R1 miljoen. Dit is diegene wat elke ses maande BTW-opgawes moet indien. Boerdery met groter omsette moet elke twee maande BTW indien, maar boere kan vra om dit elke twee maande te doen, indien hulle nie op tweemaande is nie.
Indien SAID die stelsel van 'n nulkoers vir produksiemiddele skrap, sal dit beteken dat boere ’n ekstra rentelas op hul skouers gaan hê omdat hulle die BTW op die aankope van saad, kunsmis en chemikalieë vir tot drie maande sal moet dra, afhangend van hou gou SAID die BTW terugbetaal. Die BTW-vergunning is juis ingestel om boere tegmoet te kom met hul kontantvloei omdat dit tyd neem voordat SARS die die BTW terugbetaal.
Volgens Rapport sê mnr. Adrian Lackay, woordvoerder van die SAID, ’n “beduidende” aantal BTW-geregistreerde ondernemers in die landbou misbruik die stelsel. Hulle word reeds vervolg.
Mnr. Dawie Maree, senior ekonoom van AgriSA, sê probleem is dat boere nie noodwendig die ekstra kontant het nie. “Hulle sal finansiering moet kry vir daardie twee maande voordat die BTW teruggeëis kan word en dis waar die probleme ontstaan – om die finansiering te kry en die rente daarop te betaal.”
Mnr. André Jooste, hoofbestuurder van Aartappels SA, het ’n berekening gedoen oor die impak wat só ’n stap deur SAID op die aartappelbedryf kan hê. Indien die nulkoers op BTW toegepas in die landbou toegepas sou word, sal die bykomende koste om kunsmis te koop R882 miljoen beloop en dié vir landbou-chemikalieë R1,19 miljard meer.
“As boere dié bykomende geld teen ’n koers van 8,5% moet leen, sal die rentekoste sowat R74 miljoen vir kunsmis en R101 miljoen vir gifstowwe beloop. Vir elke van die 600 aartappelboere wat in die land oorgebly het, beteken ’n bykomende gemiddelde koste van R564 047, waarvoor hy eers oor drie maande die terugbetaling sal ontvang. Dit is ‘n ekstra koste vir boere in ’n omgewing waar insetkoste ’n stygende neiging toon, terwyl produkpryse sywaarts beweeg dof daal,”sê Jooste.
Jooste voeg by dat kleinskaalse boere (kommersieel én opkomende) wat nie vir BTW geregistreer is nie, in werkikheid dus 14% meer vir hul insetkoste sal moet opdok omdat hulle nie BTW sal kan terugeis nie. Hulle sal dieselfde prys vir produksiemiddele moet betaal as die groot boere, maar hul koste sal 14% hoër wees.
Bron: Rapport