As die wet boere aanspreeklik hou vir die versuim om veldbrandvoorkomings- en beheermaatreëls op hul grond in werking te stel en in stand te hou, behoort dit dieselfde te doen vir alle maatskappye wat slikdamme besit wat beserings of skade aan mense, diere, infrastruktuur en die omgewing het of kan veroorsaak.
Só sê mnr. Bennie van Zyl, hoofbestuurder van TLU SA, ná die ramp op 11 September by Jagersfontein waarin een persoon volgens berigte dood en talle beseer is. Huise is verwoes, vee het verdrink en infrastruktuur is vernietig of beskadig. Weiding, grond en varswaterhulpbronne is met sediment en moontlik selfs giftige stowwe besoedel.
“In watter mate die eienaars van die slikdam verantwoordelikheid moet aanvaar vir die ramp, is ’n oop debat. Na ons mening behoort hulle aanspreeklik gehou te word. Dit klink of die plaaslike gemeenskappe al in die verlede gewaarsku het dat die slikdam ’n risiko inhou, veral omdat dit ho?r as die nabygeleë dorp is.”