
Satawu sê ter wille van die ekonomie en ten spyte van sy ontevredenheid met Untu se aanvaarding van Transnet se loonaanbod, sal hy verdere onderhandelinge intern met Transnet se bestuur voer.
Volgens die Amerikaanse departement van landbou se buitelandse dienste was Suid-Afrika se uitvoer van landbouprodukte teen einde Augustus sterk op pad om die 2021-rekord van $12,4 miljard te oortref. Mielies, tafeldruiwe, sitrus, appels, pere, wyn, neute en wol is van die grootste uitvoerprodukte. Teen 31 Augustus was die totale landbou-uitvoer klaar 6% meer as in die ooreenstemmende tydperk verlede jaar ($8,9 miljard).
Voor die staking was daar volgens die organisasie plek bespreek op skepe vir beduidende volumes landbouprodukte wat vir oorsese markte bestem was. Die staking het egter veroorsaak dat baie vrugte, onder meer bessies, nie hawens kon verlaat nie. Daar is ook gewaarsku dat 40 000 werknemers in die bessiebedryf se werksgeleenthede direk weens die staking in gedrang gebring is.
Hortgro sê in ’n verklaring die einde van die staking beteken nie dat die vrugtebedryf uit die moeilikheid is nie. “Die uitkringefffek in die waardeketting gaan nog weke gevoel word en veral werkers op grondvlak gaan dit voel.”
1 000 werkers reeds geraak
Hortgro sê op Grabouw was meer as 1 000 seisoenale werkers by een van die grootste pakhuise in die gebied hul inkomste die afgelope week kwyt as gevolg van die staking. “Die pakhuis se verkoelingsaanleg was vol vrugte en omdat dit nie uitgevoer kon word nie, is die aantal werkers verminder omdat vrugte nie verpak kon word nie,” sê mnr. Gafielden Benjamin, sekretaris-generaal van die Agricultural, Food, Fishing and Retail Industry Workers’ Union (Afriwu). Volgens hom is meeste van die seisoenale werkers wat hul lone kwyt is, vroue en enkelouers.
Teen Woensdag was 70% tot 80% van Transnet-werknemers terug by die werk, luidens ’n verklaring van Transnet.
Untu verteenwoordig die meeste werknemers by Transnet met 24 992 lede (53,9%) op 20 September, maar die driejaar-ooreenkoms is ook op toepassing van werknemers wat nie lede van Untu is nie. Dit is terugwerkend tot April vanjaar en behels ’n 6%-verhoging in salarisse in die eerste jaar, 5,5% in die tweede jaar en weer 6% in die derde jaar.
Transnet sê met die staking amptelik op ’n einde, is die klem by sy hawens nou op die verskeping van vragte wat opgehoop het as gevolg van die staking. Aandag word veral gegee aan vragte op skepe wat in die hawens vasgemeer is. Transnet sê bederfbare produkte en vragte wat tydsgevoelig is, kry voorkeur.
Ingevoerde produkte moet ook so gou as moontlik uit die hawens vervoer word om beweging in en uit terminale te vergemaklik.
Laai die Landbou.com-app af en lees jou landbounuus direk op die app. Dié app is beskikbaar in die Apple-, Android- en Huawei-winkels.