
Hy was die hoofspreker op die Afrika-nutsweek, wat vandeesweek in Kaapstad gehou word.
Suid-Afrika het die afgelope jare die werklikheid van beurtkrag beleef. Dié beurtkrag is nie net deur ondoeltreffende bestuur veroorsaak nie, maar ook deur ’n gesloer om beter, doeltreffender en groener energietegnologie toe te pas.
Eskom se opwekkingsvermoë versleg weens ou infrastruktuur. Daarom is meer belegging nou nodig om ou kragaanlegte te vervang. Volgens Radebe is die doelwit om vanaf 2030 heelwat nuwe opwekkingsvermoë te vestig.
“Ons is in gesprek met ons maatskaplike vennote by Nedlac. Die kabinet se goedkeuring van die hulpbronneplan vir Suid-Afrika sal ’n tasbare plan vir energiesekerheid uiteensit, wat ook die deelname van onafhanklike kragvoorsieners saam met Eskom en munisipaliteite sal vervat.”
Die uitbreiding van die opwekkingsvermoë ingevolge die hulpbronneplan sal meer as R1 triljoen kos tot 2030. Dit sluit die koste van nuwe kragaanlegte en die transmissie- en verspreidingsinfrastruktuur in.
Die energiesektor dra sowat 80% by tot die totale plaaslike vrystelling van koolstofdioksied, waarvan 50% van elektrisiteitopwekking en die produksie van petrol kom.
Maar vanweë die land se groot hoeveelheid steenkoolreserwes sal steenkool deel van die energiemengsel bly. Die opvang en vaslegging van koolstof, ondergrondse steenkoolvergassing, die omskakeling van steenkool in vloeistof en ander skoner steenkooltegnologie is uiters belangrike maniere om Suid-Afrika te help om sy steenkoolreserwes op ’n omgewingsvriendelike manier te gebruik, sê Radebe.
Met die toename in wind- en sonenergie het die behoefte aan gasinfrastruktuur belangriker geword. Dit is bekend dat Suid-Afrika sy elektrisiteitsopwekking kan uitbrei met die groot gasvonds wat Total onlangs aangekondig het.
Ontvang die nuutste landbounuus en -raad in verskeie bedrywe - teken HIER in vir een van ons nuusbriewe. Volg ons op Whatsapp om daaglikse landbounuus op jou selfoon te ontvang.