
Mnr. Tom Vilsack, Amerikaanse minister van landbou, het vandeesweek aan die media gesê dat hy deesdae op sy knieë gaan om te bid vir reën in die droogte wat tans Amerika se Midde-Weste teister.
Dié droogte het daartoe gelei dat 1 297 distrikte in 29 state tot rampgebiede verklaar is. Veral die plaaslike mielie- en sojaboonoes het drasties gekrimp weens dié droogte.
Die kleiner oes het ook tot hoër mielie- en sojaboonpryse gelei wat nie net tot hoër voerpryse nie, maar ook tot hoër kospryse sal lei vir ten minste die volgende twee jaar. Die uitwerking daarvan sal veral in hoër vleispryse gevoel word.
Volgens die Amerikaanse regering word die grootste gebied sedert 1956 nou deur droogte geraak. Die droogte van 1988 het egter meer gekos, deels weens veldbrande wat in daardie tyd gewoed het.
Die Amerikaanse department van landbou het die Obama-regering genoop om finansiële hulp aan die sukkelende Amerikaanse boere te bied. Intussen wil dit nie voorkom asof daar binnekort veel reën in die Amerikaanse Midde-Weste gaan val om verligting van die droogte te bied nie.
Bron: Reuters.com