Amnestie kom vir mense of organisasies wat onwettig of weens korrupte praktyke van staatsgrond of –eiendom gebruik maak.
Die Departement van Openbare Werke glo dié proses sal hom nie net help om staatsbates terug te kry nie, maar ook om meer duidelikheid te kry oor hoeveel onroerende bates die staat besit. Daar is tans nie een enkele bate register waarin al die staat se eiendom gelys is nie.
Me. Lydia Bici, bedryfshoof by die Departement van Openbare Werke, het gesê omdat mense onwettig staatseiendom beset beteken dit nie dat die eiendom nie op hul boeke is nie."Ons weet net nie wie dit beset nie.”
Die Tesourie het R30 miljoen bewillig wat teen 1 April beskikbaar sal wees om die bateregister te verbeter, die verifikasie van eiendom te doen en ook om die amnestieproses aan die gang te kry. Mnr. Willem Doman, DA-LP, het aan Landbou.com gesê die departement sukkel só om sy bateregister op hoogte te kry en weet nie presies watter eiendom die staat besit nie.
Amnestie kan in dié opsig ‘n goeie ding wees, maar die betrokke voorwaardes sal duidelik omskryf moet word. Die bateregister is ook ‘n lewendige register. Dit verander soos grond vir restitusie beskikbaar gestel word en ook as daar grondaankope vir staatsdoeleiendes is.
Verwarring
Dit is nie net dat hulle nie presies weet hulle besit nie, maar boonop is die bates in verskeie regeringsname en instansies geregistreer, het Doman gesê.
Die DA sal die amnestie steun as dit is om die grond weer in die staat se besit te kry. Na gelang van die Wet op die Bestuur van Onroerende Bates (Wet 19 van 2007) moet alle nasionale eiendom onder die Nasionale Regering geregistreer word en dié in die provinsies onder die naam van die provinsie.
Die komitee is egter nie vol vertroue dat die departement sy bateregister teen 2014 ten volle opgedateer sal het nie. Me. Manana Mabuza, voorsitter van die portefeuljekomitee vir openbare werke, het gesê sy glo nie die teiken sal bereik word nie. Sy wou ook weet wie voordeel trek uit die staatsgrond wat die departement eers verlede jaar “ontdek” het.
Onbewus van sy eiendom?
Verlede jaar het aan die lig gekom dat wynplase en ‘n lugmagbasis deel is van 108 000 eiendomme van die staat. Die Regering het altesaam 33 000 geboue gekry wat hy besit waarvan hy nie bewus was nie.
Die departement het intussen R30 miljoen bestee om die 33 000 geboue te vestig en moet nog ‘n verdere 39 000 voltooi.
Me. Florence Rabada, hoofdirekteur: bateregisterbestuur van die departement, het uitgelig dat daar met die Departement vir Landelike Ontwikkeling en Grondhervorming saamgewerk word om die teiken te bereik.
“Landelike Ontwikkeling en Grondhervorming het gevind dat daar ‘n tekort aan waardeerders in die land is.” Daar is R5 miljoen in die komende boekjaar begroot om eiendom te waardeer.
Dit is egter nie genoeg nie, het sy aan die komitee gesê.
Die Departement vir Landelike Ontwikkeling en Grondhervorming is verantwoordelik vir opmetings rondom die eiendom en Openbare Werke is slegs gelas met die opmeting van strukture.
Rabada het aangedui dat 200 kontrakwerkers in die nuwe boekjaar aangestel sal word om fisies die voltooiing, akkuraatheid en opdatering van die bateregister regoor die land te verifieer.
21 Januarie 2011