
Wat presies hierdie grond is, sal in nasionale wetgewing uitgespel moet word.
ANC-lede wat deel is van die ad hoc-komitee wat wysigings moet opstel vir die 18de wysigingswetsontwerp op die Grondwet om onteiening met nulvergoeding vir die doeleindes van grondhervorming duidelik daarin te skryf, het ná beraadslagting die party se voorstelle vir die wysigings bekend gemaak.
Die voorstel is dat waar grond en enige ander verbetering daarop vir die doel van grondhervorming onteien word, mag die vergoedingsbedrag betaalbaar nul rand wees; dat nasionale wetgewing die omstandighede moet bepaal waar die vergoedingsbedrag nul rand is; die invoeging van ’n nuwe subafdeling 4A wat aandui dat die staat grond – wat die gedeelde erfenis van alle landsburgers is – moet beskerm; en ook die invoeging van subafdeling 5 dat die staat redelike wetgewende en ander maatreëls moet tref om dit vir die staat moontlik te maak “om voogdyskap van sekere grond” te kry sodat landsburgers toegang tot grond op gelyke grondslag kan kry.
Die ANC en die EFF gaan nog verder beraadslaag oor hierdie wysigings. Die EFF het voorheen voorgestel dat die staat die voog van Suid-Afrika se natuurlike hulpbronne, insluitend grond, moet wees.
Dr. Mathole Motshekga, voorsitter van die ad hoc-komitee, het gesê dit moet onthou word dat nie die hele Grondwet herskryf word nie. “Ons verander nie alle wette van die land nie. Die wette van die land is baie duidelik. Openbare, private en kommunale eienaarskap word toegelaat.” Die ANC stel ook voor dat die howe nie die vergoedingsbedrag moet bepaal nie, maar moet intree om dispute op te los.
Hy het uitgewys dat die kwessie oor of 1913 as afsnydatum vir grondeise verwyder moet word, nog nie opgelos is nie.
Hy het verder ’n punt daarvan gemaak dat politieke partye daarteen moet waak om nie net te kla oor die proses nie, maar help oplossings bied en werkbare voorstelle maak soos wat die ANC doen. Die DA het voorgestel dat geen veranderinge aan artikel 25 gemaak moet word nie.
Waarskuwing
Hy het verduidelik dat die grondkwessie, dat die land behoort aan almal wat hier bly, nog nie opgelos is nie en dat die proses dit wil aanpak. Waar die ongelykheid steeds is, is die eienaarskapspatrone.
“As ons misluk om dit te doen dan beteken dit ons gaan vir die Zimbabwe-oplossing. Dit sal ’n hartseer dag wees as wat gebeur het in Zimbabwe in Suid-Afrika moet gebeur, want dit sal beteken swart op swart konflik. Die stigters van die republiek het ons gehelp deur ons ’n manier te gee om dispute vreedsaam op te los.
“Ons generasie kan nie van die onderhandelde skikking wegbeweeg en die deur oopmaak vir die gewelddadige oplos van dispute nie.”
Rakende die voorstel dat die staat grond, wat die gedeelde erfenis van alle landsburgers is, moet beskerm, verduidelik hy dat dit die staat se plig is om die erfenis te beskerm vir toekomstige generasies. “Dit is dieselfde ding soos om te sê Suid-Afrika behoort aan almal van ons – nie net die lewendes nie, maar ook die ongebore kinders.”
Me. Annelize Crosby, Agri SA se hoof van grond- en regsake, meen dat die erfenisklousule klaar verband hou met voogdyskap, want dit impliseer dat die staat die trustee is. “Dit is redelik vaag, maar ek dink dit maak die deur oop vir voogdyskap.”
Sy het gesê klousule 5 is wel ietwat sagter deurdat dit verwys na “sekere grond” en nie alle grond nie, maar dit het steeds die potensiaal om gevaarlik te wees, want niemand weet wat die “sekere grond” gaan wees nie. Dit sal later in wetgewing uiteengesit moet word.
Crosby voeg by dat dit baie teleurstellend is dat die ANC na Ramaphosa se uitspraak steeds op skrif te kenne gee dat die party ten gunste is van voogdyskap, hoewel dit ’n verwaterde weergawe is met die aanduiding dat dit betrekking het tot “sekere grond”.