Die Grondwethof het ’n aansoek van die ANC en mnr. Julius Malema om regstreekse toegang tot dié hof om teen die Gelykheidshof se bevinding oor die “Skiet die boer”-lied te appèlleer, van die hand gewys.
AfriForum sê luidens ’n verklaring het dié hof verlede week die uitspraak gemaak, waarna die bevinding aan die betrokke partye gestuur is.
Regter Colin Lamont het vroeër die jaar in die Gelykheidshof bevind dat dié lied haatspraak is en dat dit nie in die openbaar of in privaatheid gesing mag word nie.
Sterk boodskap
Intussen sê mnr. Louis Meintjies, voorsitter van TLU SA: “Die uitspraak . . . stuur ’n sterk boodskap uit aan diegene wat nie kan onderskei tussen haatspraak en die voorskrifte van die wet nie.”
Hy sê Lamont het by die aanhoor van die appèl reeds verlof toegestaan dat die saak na die Appèlhof in Bloemfontein verwys mag word. Die TLU SA is tevrede dat die getuienis wat reeds gebring is, aan die eise van die Appèlhof sal voldoen. AfriForum sê hy is gereed om die saak in Bloemfontein te verdedig.
“Ons meen die uitspraak van Regter Lamont, ondersteun deur ander uitsprake deur Regter Leon Halgryn en Regter Eberhard Bertelsmann, in ander soortgelyke sake wat in hoër howe gedien het, die onaanvaarbaarheid van haatspraak in geen ondubbelsinnige woorde veroordeel het nie,” aldus Meintjes.
7 November 2011