Die Nasionale Uitvoerende Komitee (NUK) van die ANC het sy besprekings rakende die grondhervormingsbeleid voltooi.
Hierdie beleid dui die pad aan hoe die ANC sien grondhervorming in die land volbring moet word.
Dit is bekend dat die party meen dat die gewillige koper/-verkoper beginsel daartoe geneig is om die grondmark te verwring deurdat grondpryse opgestoot word vir grond wat vir restitusie geoormerk is. Dit het veroorsaak dat grondhervorming baie duur raak en het ook daartoe gelei dat die proses waar armes toegang tot grond moet kry, vertraag is.
Hierdie siening het hy reeds in ‘n vorige weergawe van sy beleidsdokument weergegee. Volgens mnr. Ishmael Mnisi, woordvoerder van die ANC, sal die dokument oor grondhervorming soos deur die NUK goedgekeur, op die ANC se webtuiste geplaas word. Die NUK het die naweek buite Pretoria vergader waar die dokument gefinaliseer is.
Mnr. Gugile Nkwinti, Minister vir Landelike Ontwikkeling en Grondhervorming, het die dag met die lewering van sy begrotingsrede in die Parlement dit duidelik gestel dat dit nie boere se skuld is dat die gewillige koper/-verkoper beginsel nie werk nie. “Ons dink dikwels dit is die boer wat die prys opjaag, maar dit is nie.”
Hy meen dat bedrieërs, agente en waardeerders die blaam moet kry.
Hoewel Nkwinti nie die skuld op die boer pak as rede waarom die koopbeginsel nie werk nie, beteken dit nie dat die gewillige koper/-verkoper beginsel onaangeraak sal bly nie.
Hy het ‘n paar uur voor die lewering van sy begrotingsrede dit duidelik gestel dat solank daar markmeganismes is, dit nooit sal verdwyn vir grondtransaksies in die ope mark nie. Maar vir die Staat, wat ‘n verpligte koper van grond is, werk die beginsel egter nie.
22 Mei 2012